2 maande gelede
Jong musici ding mee
jong musikante: ZoĆ© Parks, Michael Maas, Liam Slabbert en Jordan Brooks is lief vir musiek. foto verskaf  ~ 

SLEGS 18 van die 30 jong musici wat vir die jaarlikse Nasionale Jeugmusiekkompetisie (NJMK) ingeskryf het, is gekeur om by die 35ste aanbieding van die gesaghebbende kompetisie om pryse ter waarde van R145 000 mee te ding.

Dit vind plaas van 8 tot 12 Oktober by die Hugo Lambrechts Ouditorium in Parow, Kaapstad.

Oudisies

Die kompetisie vir klassieke instrumentspelers tussen die ouderdom van 14 en 19 jaar het inskrywings van vier van die land se provinsies gelok.

Hulle is gekies ná oudisies voor ’n paneel van gerespekteerde musiekkenners. Die 18 deelnemers kom vanaf die Vrystaat, Oos-Kaap, Gauteng en die Wes-Kaap.

Die NJMK word beskryf as een van die strafste musiekkompetisies in Suid-Afrika. Die kompetisie vereis stamina, tegniese uitmuntendheid en ’n sterk vertolkingsvermoë.

Al die gekeurdes speel in die eerste twee rondes waarna ’n maksimum van 12 spelers deurdring na die derde ronde op Donderdag 10 Oktober.

Die voorste ses spook dan sake uit onder begeleiding van die Kaapstadse Filharmoniese Orkes (KFO) tydens ’n galakonsert op Saterdag 12 Oktober.

Bo en behalwe die meer as R145 000 in pryse, asook goud-, silwer- en bronsmedaljes, word die algehele wenner genooi om in ’n konsert op te tree by Overstrand Kunste in Hermanus. Die Wes-Kaapse finalis/te sal genooi word om ’n uitvoering in die Hugo Lambrechts Ouditorium te gee.

Die deelnemers is:

  • Daniel Brodie (19), Oos-Londen
  • Jordan Brooks (16) Fairways, Kaapstad
  • David Cyster (19), Durbanville, Kaapstad
  • Amber de Decker (19), Mowbray, Kaapstad.
  • Paula Hill (17), Durbanville, Kaapstad
  • Leo Huan (16), Pretoria
  • Gerhard Joubert (17) Stellenbosch
  • Pieter Joubert (17), Bloemfontein
  • Pendo Masote (15), Johannesburg
  • Vaughan McLea (17) Johannesburg
  • Müller Keon (15) Blaauwberg, Kaapstad
  • Willie Naudé (17) Roodepoort
  • Zoé Parks (17), Brackenfell, Kaapstad
  • Caroline Robertson (19) Fernwood Estate, Kaapstad
  • Liam Slabbert (16) Brackenfell
  • Lisa van Wyk (19) Bellville, Kaapstad
  • Kate Watson (19) Johannesburg
  • Simon Wu (19) Milnerton, Kaapstad

Die finaliste se galakonsert op 12 Oktober begin 19:00. Kaartjies kos R120 (of R90 vir pensioentrekkers, studente en leerders).

Bespreek aanlyn by computicket. com of skakel 0861 915 8000. Of bespreek by Shoprite/Checkers.

  • Toegang is gratis vir die eerste drie rondes van 8 tot 10 Oktober by die Hugo Lambrechts Ouditorium in Pictonstraat, Parow.
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters