2 jaar gelede
Jephta pak die grootskerm
aan die gang: Amy Jephta se eerste kortfilm, Soldaat, het dié week by die Silwerskermfees gedraai.FOTO’S VERSKAF  ~ 

SY KAN haar werk in nagklere doen, maar dit beteken nie daar word by Amy Jephta se werk geslaap nie.

Dié dramaturg en teaterskepper, wat ook ’n skrywer vir die Kaapse sepie Suidooster is, se eerste kortprent het dié week by kykNET se Silwerskermfees gedraai.

Jephta en Ephraim Gordon, haar vennoot, is so lief vir hul teaterstuk Soldaat dat hulle dit ook ’n kortfilm gemaak het.

“Ons het die geleentheid by ­Silwerskerm gesien en gewonder watter storie ons vir ons eerste fliek wil vertel,” verduidelik die 27-jarige Jephta oor hoe dit gekom het dat die teaterstuk ’n kortfilm geraak het.

Sy wei uit: “Ons is lief vir die storie waarmee ons opgekom het vir die teaterstuk. Maar ons kon nie regtig ons visie op die planke kry nie. Film is die perfekte medium vir die taal.”

Die film speel af in Bishop Lavis. Tydens die skoolvakansie sien twee seuns ’n gesprek tussen ’n polisie­beampte en ’n berugte dwelmhandelaar. Hulle word gevang en beland in die gangster se kloue.

Van daardie oomblik af word hulle sy soldaatjies en hul eerste taak is om ’n dwelmpakkie te gaan haal.

Jephta, wat dié keer as regisseur agter die kamera ingeskuif het, moes anders begin dink vir die film.

“Dit was nogal ’n uitdaging om in beelde te dink in plaas van woorde,” vertel hierdie skrywer van Mitchells Plain.

Sy het dit egter geniet om altyd mense om haar te hê met die projek. Met die teaterstuk kon dit nogal eensaam raak.

“En dan op die filmstel het jy skielik hierdie groot span mense om jou. Die ondersteuning van ons crew was ongelooflik. Ek het die spanwerk baie geniet,” sê Jephta.

Sy hoop ook om later ’n vollengte film te maak.

“Vir nou wil ons ’n bietjie hierdie idee laat lê. Aanbeweeg na ander stories.

“Maar ek dink ons sal terugkom na hierdie een toe,” sê sy oor die moontlikheid van ’n vollengteSoldaat-film.

Terwyl teater haar grootste liefde is, wil Jephta ’n “teaterskepper en dramaturg wees wat ook in ander mediums kan werk”.

Sy sê: “Ek wil myself nie beperk nie.

“Daar is baie geleenthede in film en televisie. En die bedryf is aan die gang.”

Jephta bly self aan die gang. Die skrywer vertrek binnekort na België en Nederland vir die Week van de Afrikaanse Roman en die Afrovibes-fees.

Sy is deur die organiseerders genader en sal ’n toer doen wat bestaan uit werksessies, praatjies en opvoerings in Amsterdam en ­België (Brussel en Gent).

Jephta gaan ook ’n werksessie by ’n universiteit aanbied en die regie behartig van ’n opvoering by die Afrovibes-fees.

Die koördineerder van die Week van de Afrikaanse Roman, Ingrid ­Glorie, is opgewonde daaroor om die jong talent te ontvang.

“Ons is baie ­beïndruk deur haar maatskaplike betrokkenheid, of dit nou is vir die veiligheid van kinders op die Kaapse Vlakte, vir die kanse vir vroueskrywers of gay-regte. Ons sien veral uit daarna dat Amy die Nederlanders kan laat kennis maak met Kaapse Afrikaans,” sê Glorie aan Son op Sondag.

Jephta se werk gaan later vanjaar in die beroemde Carnegie Hall in New York as deel van The Children’s ­Monologues draai.

“Ek het in 2015 ’n monoloog – Shoes – geskryf wat deur die Britse akteur James McAvoy opgevoer is onder die regie van die regisseur Danny Boyle.

“Daardie opvoering gaan ’n speelvak in New York hê. Daar is baie groot name in die geselskap, onder andere Charlize Theron, Trevor ­Noah en Ewan McGregor,” vertel sy oor ’n opwindende projek ter ondersteuning van die kinders in Rammulotsi in die Vrystaat.

Ongeag die medium waarvoor Jephta skryf, is sy net gelukkig dat sy dit kan doen.

“En dat ek dit in my nagklere kan doen!” sê sy oor die genot van haar werk.

“Ek voel regtig baie lucky dat ek elke dag my eie skedule kan vasstel en dat my werk elke dag my ­verbeelding betrek.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters