24 dae gelede
Jarrad wil mense inspireer met sy nuwe gospellied
INSPIRASIE KOM: Jarrad Ricketts se nuwe lied is ’n gospellied.  ~ 

JY KAN vanaand na die Sama-benoemde Jarrad Ricketts se heel eerste gospel-lied “You Are Lord” luister!

Dis nou as jy ingeskakel is op Jonathan Rubain se gospel-program Koortjies Met Jonathan Rubain om 18:00 op DStv-kanaal 145.

Jarrad, wie se debuutalbum Break the Rules vir ’n Sama benoem is, vertel dat hierdie lied na hom toe gekom het toe hy op sy knieë diep in gesprek was met God.

“Sedert laas jaar met die geweld teen vroue, die kinders wat vermis raak en tot op vandag met die corona-virus, het ek net gevoel dat my geloof die enigste ding is waarna ek kan gryp.

“Ek het net gebid en nadat ek gebid het, het ek net gesit en ek het so geïnspireer gevoel. En letterlik binne 10 minute het ek die lied geskryf. Dit was nie eens in my plan om ’n gospellied te skyf nie, dit het net gebeur nadat ek gebid het.”

Hy verduidelik in moeilike tye soos dié kan die song jou inspireer en herinner dat God Sy Hand getrou oor ons hou.

“Te midde van die pandemie verloor mense hoop, hulle verloor hul werke en ervaar pay cuts en hulle is angstig oor hierdie dinge. Ek wil net hê die song moet mense uplift en inspireer.”

Jarrad sê hy het saam met die vervaardiger Moeneeb Galant en die musiek-direkteur Roderick McKay gewerk om die gospellied te vervaardig.

“Die lied is ’n prys-en-aanbiddingsliedjie. Dit gaan daaroor om lof en aanbidding aan ons Skepper te gee. Die lied praat van die probleme en uitdagings wat ons ervaar, nie net daar buite in die wêreld nie, maar ook binne-in onsself.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters