6 maande gelede
Groove Station terug ná amper 2 dekades
kyk die manne! Rico White en Nadeem Parker strike ’n pose.FOTO verskaf  ~ 

WIE onthou nog die cool songs­ “She don’t ­­­like the Boerewors” of “Fiela se kind”?

As dié songs dalk ’n klokkie by jou lui en jou met heimwee vul, sal jy waarskynlik die groep Groove Station onthou.

Dié groep was van die middel-tagtigerjare tot die laat neëntigerjare baie gewild.

Hul fokus was ’n tipe mixbreed-Afrikaanse liedjies met humor in.

Die groep het bestaan uit die sangers Al Etto en Rico White en hulle het destyds die crowds behoorlik in vervoering gehad met hul baie lekker beat.

Maar ongelukkig het die groep aan die einde van die neëntigerjare opgebreek toe Rico en Al se paaie geskei het.

Rico het oorsee sy ding gaan doen, terwyl Al hom op sy loopbaan as musiekvervaardiger toegespits het, tot en met sy afsterwe in 2013.

Maar daar is nou goeie nuus vir die aanhangers van dié eens gewilde musiekgroep.

Nou, byna 20 jaar later, is Rico terug in Suid-Afrika en het hy besluit om die groep te laat herleef.

Hy en die sanger Nadeem Parker is nou die manne agter die nuwe Groove Station.

Tans werk hulle aan hul eerste CD, wat hulle aan Al Etto wil wy.

“Al Etto was ’n man wat gestaan het vir die bruin mense en geglo het aan onse musiek. Ek wil hê dat mense nie sy naam vergeet nie,” sê Rico.

“Hy was elke dag dieselfde met daardie nederige gesindheid en ek mis hom.

“Die CD, wat voorlopig 12 songs sal hê, het nog nie ’n naam nie en word tans by die Jazzitup Studios in Bonteheuwel opgeneem. Ons beplan om dit hierdie jaar net so voor die big days uit te reik.”

Op die vraag hoekom hy die groep Groove Station weer op die been wil bring, het Rico geantwoord: “Oral waar ek hier in Suid-Afrika optree, wou die fans weet wanneer daar weer ’n nuwe Groove Station kom.

“Hulle het destyds ge-like van die songs se lekker beat, sense of humor en die groep se interaksie met die crowd.

“Dít is hoekom ek gevoel het om die groep terug te bring.

“Die musiekstyl gaan ons ’n bietjie verander om in te pas by die hedendaagse styl, maar daar sal ook twee of drie tracks op die ou vibes wees.

“Die karakters ‘Die Hond’ en ‘Die Kat’ gaan weer daar wees, met my steeds as Die Hond en Nadeem as Die Kat.

“Maar die maskers wat ons destyds tydens ons shows gedra het, gaan ons mee wegdoen. Dít het ons te veel laat sweet.”

Rico is ook lid van die groep Mr Rico en die Kokorotte, wat bestaan uit hom, U-Carmen en Zulpha Nash.

En sy bekende song Amakokorotte gaan ook op die nuwe Groove Station CD feature.

Rico doen ook Mowtown-musiek op aanvraag.

  • Belangstellendes kan Rico gerus by 076 738 0005 of 021 694 7771 kontak vir shows.
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters