21 dae gelede
Groep maak ’n Kaapse draai
aan die brand: Joyous Celebration gaan in die Moederstad optree.FOTO VERSKAF  ~ 

DIE gospelgroep Joyous Celebra­tion gaan in die Kaap optree.

Jabu Hlongwane, een van die groep se stigterslede, vertel hulle is baie opgewonde om weer die Moederstad te besoek.

“Kaapstad was goed vir ons en ons is op versoek van ons getroue ondersteuners terug.”

Mbali Mokudubete en Nozipho Phiri, ook lede van die groep, vertel hulle het ’n spesiale band.

“Ons is nie net musikante nie, maar ook ’n liefdevolle en crazy familie. Ons lewe het verander toe ons lede van die Joyous-familie geword het. Ons verhouding met die Here het ook verdiep.”

Hlongwane sê: “Ons vier diversiteit in die groep en wil verskillende kulture bymekaar bring en ’n produk van Afrika aan die wêreld wys.

“Dis alles net die genade van die Here wat Joyous Celebration deurgedra het. Deur gospelmusiek wil ons die nasie verenig.”

Hlongwane wil veral ’n beroep op bruin gospelsangers van die Wes-Kaap doen en hulle uitdaag om lede van die groep te word.

In die verlede het die groep groot name soos Charisma Hanekam en Patrick Duncan opgelewer.

“Ek glo daar sal weer ’n nuwe Afrikaanse gospellied deur ’n gospelsanger van die Wes-Kaap in die groep gesing word,” sê Jabu.

Joyous Celebration 23 is die groep se nuutste album en die DVD sal by die konsert beskikbaar wees.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters