3 maande gelede
Genade hou haar hoog
glo: Bernelee February volg haar droom en sê enigiets is moontlik.FOTO VERSKAF  ~ 

MOET nooit toelaat dat mense jou definieer nie.

Só vertel die pragtige Bernelee February (22), wat deelneem aan die aanlyn skoonheidskompetisie Empress South Africa.

Die kompetisie gaan nie net oor skoonheid nie, maar oor intelligensie en purpose.

Deur die jaar word die deelnemers verskillende take en uitdagings gegee om hulle te bemagtig. Hiervoor kry hulle punte en maak ’n verskil in hulle gemeenskap.

Volgens die Worcesteriet het ’n vriendin haar aangespoor om deel te neem.

“Ek het gedink ek het niks om te verloor nie. Alles is moontlik in die lewe. Jy moet net positief wees, want mooi kom van binne.

“Jy is goed genoeg en spesiaal in God se oë. Daarom moet jy glo in jouself en weet die planne wat die Here vir jou het, is ’n hoopvolle toekoms.”

Daar is sewe inskrywings uit die Wes-Kaap en net een gaan deurdring na die eindronde. Dié meisie word einde Augustus aangewys. Die eindronde is op 16 Desember in Jozi.

Toewyding

“Baiekeer het my vriende vir my gelag en gesê ek gaan dit nooit maak as ’n model nie,” onthou February.

Sy sê dit het haar nie van stryk gebring nie en nou leef sy haar droom uit.

“Glo in die krag van jou drome en met harde werk en toewyding word jy beloon.”

Sy het ook ’n liefde vir syfers en het onlangs ’n kursus in finansiële bestuur voltooi.

February sê: “As ek wen, wil ek graag ’n modelskool vir jong vroue in die dorp begin. Ek voel so dankbaar dat ek so ver gekom het in die kompetisie.

“Dis te danke aan die Here, want dis net sy genade wat my dra. My boodskap aan vroue is dít: Vind jou vreugde in die Here en dit sal goed gaan met jou.”

Ondersteun February deur vir haar te stem. SMS “Bernelee” na 35334.

Die wenner kry kontant en ’n modelleerkontrak.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters