3 maande gelede
‘Fiela maak my sterker’
Loop: Zenobia Kloppers sê ’n deel van haar voorbereiding vir Fiela was om fiks te wees oor sy ver moes stap.  ~ 

DIS ’n fliek wat elke emosie in jou sal wakker maak – van hartseer, empatie, simpatie tot uiterse woede.

Dis hoe ek gevoel het toe ek die fliek Fiela se Kind onlangs op die Silwerskermfees gaan kyk het.

As jy die boek deur Dalene Matthee op skool gelees het, sal jy beslis nie die fliek in die cinemas wil misloop nie.

Die boek Fiela se Kind is ’n belangrike deel van ons erfenis en die fliek is deel van daai erfenis wat jy op ’n visuele vlak moet ervaar.

Son op Sondag het gaan praat met die aktrise Zenobia Kloppers, wat die hoofrol van Fiela Komoetie vertolk.

Hier is van die vrae wat ons haar gevra het:

  • Hoekom het jy ja gesê om die rol van Fiela te vertolk?

Dis ’n ikoniese rol waarvan die meeste aktrises droom om te speel. Ek was ook bevoorreg om haar reeds op die verhoog te vertolk. Dit was dus nie moeilik om die jawoord te gee nie.

  • Daar was al voorheen ’n fliek oor die boek Fiela se Kind. Dink jy dit was nodig om die fliek oor te doen?

Beslis. Ek gebruik die woorde van my regisseur Brett Michael Innes: “Dis ’n nuwe Fiela vir ’n nuwe generasie.”

) Hoe verskil die karakter Fiela van Zenobia Kloppers?

Eerstens, Fiela is ’n ma, waar ek nie kinders het nie. Sy is ook harder en taaier as ek. Sy het my eintlik sterker gemaak.

) Watter voorbereiding moes jy doen vir hierdie rol?

Die vertolking van haar op die verhoog was geweldig behulpsaam, want ek het daardeur reeds fisiek in haar vel “ingeklim”.

Ek het weer die boek gaan lees en van nuuts af kennis gemaak met Fiela, veral op ’n emosionele en spirituele vlak.

Ek en Brett het ook baie gesels oor hoe hy die karakter gespeel wil hê. Hoe hy haar sien. Ek moes ook leer oor aloes en hoe om hulle te tap, sowel as my kennis oor volstruise opbou.

Verder moes ek die Uniondale-aksent aanleer en seker maak ek is fiks genoeg om baie te loop.

) Wat is die relevansie van die fliek in vandag se tyd?

Die fliek raak aan temas wat universeel is en in ’n moderne Suid-Afrika steeds relevant is.

Moederliefde en die band tussen ma en kind. Identiteit – waar ’n mens inpas en wat jou identiteit bepaal.

) Watter lesse het jy persoonlik van die fliek geleer?

Omdat ek jare lank omtrent net verhoog- en radiowerk gedoen het, was die fliek ’n groot leerskool.

Ek het geweldig baie oor filmkuns by die crew geleer en veral by my uitstekende regisseur, Brett Michael Innes, en ons kinematograaf, die briljante Tom Marais.

  • Noudat jy die fliek (op die Silwerskermfees) klaargekyk het, is daar iets wat jy wou verander?

Nee, ek het my alles gegee in die maak van die film. Ek vertrou my regisseur dat alles presies is soos hy dit wou hê.

) Motiveer baie kort oor hoekom lesers die fliek moet gaan kyk?

Dis ’n baie mooi film en die storie vorm deel van ons geskiedenis en ons letterkunde. Ek dink mense gaan ’n ervaring kry wat hulle nie verwag nie en hulle sal ’n ander sy van Fiela en haar kind sien.

) Watter scene was vir jou die moeilikste om te verfilm?

Sonder om iets weg te gee, wil ek sê die een waar ek my eie stunt gedoen het.

Julle sal maar die fliek moet kyk om te sien waar dit voorkom!

Daar het julle dit, Sonlanders, gaan check dit uit!

Die fliek het Vrydag by alle Ster-Kinekors landwyd begin draai.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters