3 maande gelede
Die gehoor moet sy klanke vóél
Heinrich Isaacs gaan harte roer. FOTO VERSKAF  ~ 

HY WIL musiek maak wat mense se gemoed opkikker en hulle laat goed voel.

So wens die saxofoonspeler Heinrich Isaacs van Ravens­mead.

Heinrich, wat al 20 jaar in die musiek­bedryf is, sê: “Dis moeilik om voltyds musiek te maak, want ’n mens moet die pot aan die kook hou en vir jou familie sorg.

“Ek het geleer daar is tye dat dinge in ’n mens se lewe gebeur, en dan moet jy baiekeer geduldig wees en net wag, want dinge gebeur op die regte tyd.

“My geloof in God is baiekeer nogal beproef, veral met die dood van my ma.

“Dit was ’n baie moeilike tyd in my lewe; ek het dit moeilik verwerk, maar die Here het genesing op Sy tyd gebied.”

Heinrich was vroeër vanjaar so siek dat hy gedink het hy gaan dit nie maak nie.

Hy sê dis net danksy God se genade dat hy herstel het.

Heinrich getuig: “Die Here is die anker­ in my lewe. Sonder Hom kan ek nie lewe nie.”

Hy werk tans aan sy tweede album, I Believe, wat later vanjaar uitgereik sal word.

Heinrich sê dis ’n groot prestasie vir hom om die opname van sy jongste album by die SABC in Seepunt te kan doen.

Hy bestempel dit as ’n droom wat verwesenlik word.

Die talentvolle Tim Feder en Marco van der Merwe is die regisseurs daarvan.

Van der Merwe en Reginald Pretorius het Isaacs gehelp skryf aan die liedjie “I Believe”.

Heinrich glo dat ’n mens God in alles moet vertrou, dat Hy in beheer is en dat voorspoed voorlê selfs wanneer ’n mens swaar kry.

Konsert

Hy sê hy is sy vrou, Colleen, sy familie en bestuurspan ewig dankbaar vir hul ondersteuning.

Heinrich bied op 11 Augustus ’n konsert aan. From My Heart to Yours sal in die Jamrock-teater in Brackenfell aangebied word. Dit begin 18:00 en toegang is R150.

Die gaskunstenaars is Cheswin Ruiters, Natasha Adams, Leonie le Roux en Manuel Losper.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters