11 dae gelede
Craig maak oop op ‘koortjies’
gaste: Die Arensvlei-akteurs Craig Adriaanse en Kay Smith loer dié week in by Koortjies saam met Jonathan Rubain.  ~ 

JULLE moenie vanaand Koortjies met Jonathan Rubain misloop nie, want Craig Adriaanse kom gooi ’n draai op dié gospelprogram.

Die geliefde Arendsvlei-akteur gaan praat oor ’n onderwerp wat ons baie in ons gemeenskappe probeer vermy – depressie.

Die akteur vertel hy ervaar reeds sedert sy hoërskooldae depressie.

“Daai tyd het ek nie geweet wat dit is nie. Ek kon nie ’n naam heg aan die gevoel wat ek ervaar het en wat my so baie pla nie, totdat ek in ’n latere stadium van depressie en angs begin leer het,” sê hy.

“Ek het redelik lank gewag voordat ek uiteindelik besluit het om hulp te gaan soek, tot onlangs, toe ek my sielkundige begin sien het.”

Craig sê hy hoop sy TV-onderhoud maak ander jong mense bewus van depressie en verseker hulle dat hulle nie hoef bang te wees om daaroor te praat nie.

Besef

“Ek was eers huiwerig om ’n sielkundige te gaan sien omdat ek bang was dat God vir my sou kwaad wees omdat ek nie na Hom uitreik nie.

“Dis tóé dat ek besef dat God dié mense op ons paaie sit om ons te help. So, om op televisie oor my stryd teen depressie te praat is om ander mense, veral jong mans, daarvan bewus te maak.”

Craig deel ook raad met diegene wat depressie ervaar.

“Praat, al maak dit seer. Mens voel baie ligter as jy met iemand gesels wat jy vertrou en wat na jou sal luister.

“Moenie skaam wees as jy depressie of angs ervaar nie. Dit vra nie voordat dit na jou toe kom nie. Die belangrikste is hoe jy dit hanteer.”

Die pragtige Arendsvlei- en Projek Dina-aktrise Kay Smith loer ook in op dié week se episode.

Koortjies met Jonathan Rubain is elke Sondag van 18:00 op kykNET­ & kie (DStv-kanaal 145).

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters