2 maande gelede
‘Bones’ gaan op Legends-toer
BLAAS: Colin “Bones” Delight doen sy musiek-ding op die verhoog.Foto’s: SALMON SMITH  ~ 

AS JY die naam Colin “Bones” Delight hoor, dan dink jy onmiddellik aan die gewilde popgroep The Rockets.

Maar wat baie mense nie weet nie, is dat dié talentvolle musikant in sy musiekloopbaan ’n lid van vele disco bands was.

Bones is een van die talle musikante wat die skares gaan vermaak op die Throwback Legends Tour, wat binnekort deur vyf stede in Suid Afrika asook Namibië gaan toer.

Die toer is ’n geskiedkundige en nostalgiese geleentheid om legendariese musikante uit vervloë dae te vereer. Dit begin op 20 April in die Moederstad.

Bynaam

Bones is gebore in Harfield in die suidelike voorstede van Kaapstad.

Op agjarige ouderdom het sy familie verhuis na Bridge­town in Ath­lone.

Hy het die bynaam “Bones” gekry oor hy sulke dun beentjies gehad het.

Hy het vroeg in sy lewe by musiek betrokke geraak.

“Ek was 14 jaar oud toe een van my vriende, Claude Weely, my genooi het om sy informele band The Heart-throbs te join. Die band het op straathoeke gespeel en die in­woners vermaak.

“Ek het altyd na die musiek van die Beatles geluister wat in die record-winkels in Rylands gespeel het. Dit het so op die suidoostewind aangewaai gekom. Dít het my geïnspireer tot musiek.

“In 1969 sluit ek toe aan by die band Plea­sure Seekers. In 1970 sluit ek aan by The Buttercups en kort daarna was dit The Fantastics.”

In 1971 skuif Bones na The Rockets en hy was 18 jaar ’n lid van dié gewilde disco band.

“Ek het dié tipe musiek toe ontgroei en wou meer progressive musiek vir matured mense maak – die ouer garde,” verduidelik hy.

“Lionel Petersen het in daardie tyd behoort aan die band 909. Hy moes toe dringend ’n operasie aan sy keel ondergaan en het my gevra om as ’n vocalist by hom oor te vat. Ná dit het ek solo gegaan.”

Bones het geen formele musiek­opleiding gehad nie, maar kan “omtrent enige musiekinstrument bespeel”.

En hy is versatile in alle genres.

In 1999 het hy sy debuut-CD, The Soul Purpose, uitgebring.

Die hoogtepunt van sy lewe was in 1980 toe The Rockets die supporting act was vir die Amerikaanse R&B- en soul-groep Taveres toe hulle in Suid-Afrika kom toer het.

Bones was ook betrokke by The Rockets se 50th Anniversary Concert in die Grand Arena in 2017.

Vir hom was dit eerder ’n re­union om ná ál die jare weer die artists te sien met wie hy lank gelede gewerk het.

  • Die Throwback Legends Tour vind plaas by die volgende plekke: 20 April – die Kasteel in Kaapstad; 26 April – The Were­house in Durban; 28 April – Ugu Sports Centre in Shelly Beach in KwaZulu-Natal; 12 en 13 Mei – The Board­walk in Port Elizabeth; 18 en 19 Mei – The Dome Church in Johannesburg; en 25 Mei – Nam International Music Festival in Windhoek, Namibië.

Die kaartjies is beskikbaar by Webtickets en alle Pick n Pay-winkels. Dit kos R250 (algemeen), R150 vir pensioenarisse, R450 vir Golden Circle- en R650 vir VIP-kaartjies.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters