Verlede maand
Zelda het voor geloop
 ~ 

ZELDA Jongbloed was van die eerste Afrikaanse struggle-joernaliste wat vooruit geloop het om verkenningswerk te doen en die joernalistieke bedding vir toekomstige swart joernaliste in die Afrikaanse joernalistiek voor te berei.

Jongbloed (67), wat bekendheid verwerf het as redakteur van die destydse Rapport Ekstra, wat op die sogenaamde bruin Afrikaanse lesersmark gerig was, is verlede maand aan kanker oorlede.

Ten tye van haar dood was sy ’n DA-LP. Voor haar uittrede by Naspers was sy senior adjunkredakteur van Rapport en Die Burger.

Jongbloed het haar joernalistieke tande in die Engelse pers – eers by die Cape Herald in die Kaap en later by die Evening Post in Port Elizabeth – geslyp.

Toe sy haar in 1981 by Rapport as senior joernalis aansluit, was die Afrikaanse hoofstroom-joernalistiek vasgevang in ’n kokon van etniese, politieke fundamentalisme.

Reg van die begin was sy in ? gedurige struggle gewikkel met haar wit manlike lynhoofde (redakteurs) en die NP-/apartheidsleiers. So te meer omdat sy ’n uitdagende perspektief op die NP en Naspers se apartheidspolitiek gestel het.

Sy moes Rapport Ekstra deur die 1980’s se politieke mynvelde navigeer sonder om integriteit in te boet en as lakei van die NP/apartheidsregering bekend te staan.

As vrou, interkulturele intellektuele pendelaar en konsekwente non-racialist het sy in die gees van geregtigheid en menswaardigheid die toets geslaag.

Sy moes joernalistiek in Afrikaans pleeg vir ’n verarmde gemeenskap, waar maatskaplike en politieke mag eeue lank eensydig ingebed was – wat hulle andersins nie volledig en ontledend in ? ander taal kon artikuleer nie.

Terselfdertyd het sy haar op ’n belangrike sosio-politieke opvoedingstaak begeef wat, soos Tim du Plessis dit gestel het, geadem was op die progressiewe gees van die ou UDF voordat dié nog gestig is.

Sodoende is die taak haar onbedoeld opgelê om Afrikanerkollegas tot nuwe progressiewe politieke insigte te oorreed wat tot baie twisgesprekke en uiteindelik tot blywende vriendskappe gelei het.

“Haar insigte oor die komplekse interaksie en geskiedenis van wit en bruin Afrikaans dra ek saam met my vir altyd,” aldus Du Plessis.

In nuusredaksies was sy ’n moederfiguur en leermeester vir menige joernalis. Na buite het sy ’n eiesoortige, visioenêre leierskap uitgestraal.

Onder haar redakteurskap het Rapport Ekstra deur sy nuusdekking doelbewus en doelgerig die profiel van bruin leiersfigure soos Jakes Gerwel, David Curry, Allan Boesak, Franklin Sonn, Adam Small, SV Petersen en andere tot volwaardige meningsvormers en openbare figure ontwikkel.

Tot op die doodsnikke van apartheid moes sy die witbaasaanslae van manlike redakteurs soos Izak de Villiers – wat tot elke prys probeer het om bruin lesers vernuftig te werf om vir die NP te stem – probeer afweer. Die Sondag voor die 1994-verkiesing wou De Villiers ’n editorial op die Metro-voorblad publiseer waarin hy bruin mense sou aanpor om NP te stem. Jongbloed het vasgekop en De Villiers moes bes gee.

By Rapport in Johannesburg het sy daarop aangedring dat die verregse kommentator Dan Roodt afgedank word as rubriekskrywer ná sy haatspraak-opmerkings oor swart mense in ’n rubriek.

In die Baai, waar sy waarnemende redakteur van Die Burger in die Oos-Kaap was, moes sy die (rubriek)skrywer Annelie Botes ook afdank nadat Botes in ’n onderhoud erken het sy is ’n rassis en hou niks van swart mense nie.

In 2010 het sy in ’n gesprek met my die wens uitgespreek om bruikbaar te word as gemeenskapswerker vir Groot-Brakrivier, haar grootworddorp. Dis teen dié agtergrond dat haar besluit om ’n LP te word, beoordeel moet word. Sy wou raadslid of gemeenskapswerker word, maar toe word sy ’n ontnugterde LP. Sy was onskuldig en onvoorbereid op die DA se interne politiek.

Jongbloed was in vele opsigte ’n beter mens as die konvensionele papbek-politikus. In haar aftreejare wou sy net ’n gemeenskapswerker wees.

Gemeenskapsdiens is die edelste soort diens aan die mens. Dit staan los van die bevordering van enige politieke ideologie – of so behoort dit te wees. Dis ’n welkome maatskaplike oriëntasie veral in SA, ’n land van uitspattige chroniese armoede.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters