12 dae gelede
Weskussers aanvaar nie staalfabriek se sluiting
SOLIDARITEIT: Betogers maak Donderdag stem dik buite Saldanha Staal.  ~ Melinda Stuurman

SALDANHA Staal moes al twee tot drie jaar gelede gesluit het.

Só sê Tami Didiza, nasionale woordvoerder van dié staal­fabriek se moedermaatskappy, ArcelorMittal South Africa (Amsa).

Didiza het betogers Donderdag buite Saldanha Staal toegespreek.

Die ANC en sy alliansievennote, die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party (SAKP) en Cosatu, het teen die beplande sluiting van die fabriek betoog.

Memorandum

Son op Sondag het vroeër berig sowat 1 000 werkers kan hulle werk verloor wanneer die fabriek teen die einde van die eerste kwartaal van 2020 sluit.

Didiza, wat die memorandum van die betogers aanvaar het, sê die besluit om die fabriek te sluit, was vir die maatskappy ’n baie moeilike een om te neem.

Hy voeg by die maatskappy se bestuur is bereid om met alle relevante rolspelers, onder wie die betogers, te vergader om aan hulle te verduidelik hoe die besluit geneem is.

“Dít is ’n besluit wat twee of drie jaar gelede geneem is.

“Maar ons het geweet hoe die lewe van die werkers geraak sou word. Daarom is dit teruggehou.”

Die vakverbond Cosatu se Weskus-streeksekretaris, Lucky Bopape, sê hulle gaan nie die fabriek se sluiting aanvaar nie.

Volgens hom het Saldanha Staal dieselfde waarde vir Weskussers as wat Tafelberg vir die Kapenaars het.

Bopape sê: “Wat sal gebeur as jy Tafelberg wegvat? Want as jy Saldanha Staal wegvat, vat jy onse alles weg.

“Ons wil hê ons werkers moet hulle jobs behou. Ons wil hê hulle moet hulle Krismis geniet.

“Hierdie is die beroep en pyn van elke kind wat nie meer kos sal het nie.

“Ons sal dit nie aanvaar nie.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters