15 dae gelede
Werkers bang ná 3 van fabriek sterf
coronavirus
Foto ter illustrasie  ~ Getty Images

DRIE werkers van die Rhodes Food Group (RFG) in Tulbagh is dood en nege ander veg nog teen die dodelike corona-virus.

Maar die werkers se vrese vir hul gesondheid ten spyt is die fabriek Dinsdag weer oopgemaak en is produksie weer aan die gang.

Die departement van arbeid en indiensneming het die fabriek verlede Vrydag gesluit.

Die departement het ook geëis dat die maatskappy ’n kontrakteur van buite moet kry om die fabriek te ontsmet.

Die werkers het Dinsdag SMS’e gekry om te sê hulle kan maar weer kom werk.

Talle werkers was moedeloos hieroor.

Deane Hill, die algemene bestuurder van RFG, het toe ’n voice note op WhatsApp aan werkers gestuur om hulle mee te deel dat die departement die groen lig gegee het om weer oop te maak.

“Meer as 100 werkers is op die perseel gescreen.

“Diegene wat simptome getoon het, sowat 34, is verwys na gesondheidsfasiliteite, waar hulle geswab is.

Resultate

“Vier van hulle is reeds positief getoets.

“Ons wag nog vir vyf ander mense se resultate,” sê Hill.

Hy sê van die werkers is in hul gemeenskappe getoets.

Uit die toetse is vyf permanente werkers positief getoets, asook twee kontrakwerkers.

Drie seisoenwerkers is ook gedurende die tydperk dood. Son verneem twee van hulle is positief getoets vir Covid-19. Die ander werker is na bewering aan onverwante komplikasies dood.

Hill sê in die voice note dit is eintlik beter dat produksie in die lockdown aangaan omdat die maatreëls vir veiligheid en gesondheid baie streng is.

Bruce Henderson, uitvoerende hoof van die maatskappy, sê RFG is een van die maatskappye in Witzenberg wat die meeste werksgeleenthede (sowat 1 500) bied.

Die Witzenberg-streek sluit Ceres, Wolseley en Tulbagh in.

Hill het bygevoeg dat enige werker enige tyd enige iets by die departement van arbeid of by die unies kan aanmeld.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters