16 dae gelede
Wees so wys in strestyd
beweeg: Dans is een van die maniere om stres te verwerk. FOTO verskaf  ~ 

SUID-AFRIKAANSE onnies het aansienlik hoër levels van stres as hulle internasionale eweknieë.

Dis bewys deur internasionale strestoetse wat onlangs gedoen is, sê Wellbeing in Schools & Education (Wise), ’n organisasie sonder winsbejag.

Wise is juis gestig om na die welstand van ons onnies en morele opheffing in skole om te sien.

“Die strestoetse het gewys baie onderwysers ly aan burnout, veral in skole in minderbevoorregte gemeenskappe,” sê Carol Surya, ’n sielkundige en medestigter van Wise.

“Behalwe die propvol kurrikulum, is ’n groot uitdaging vir dié onderwysers om hulle spirits op te hou as hulle die harde realiteite van gemeenskapsprobleme trotseer,” sê sy.

Son op Sondag het verlede week berig oor die angstigheid wat by onnies in die Wes-Kaap intree wanneer hulle die klas­kamer binnestap. Dít het aan die lig gekom op ’n beraad waar die lot van ons leerkragte bespreek is.

Vroeër vanjaar het die groep Dance Assembly stresverligtingsessies begin met onderwysers van die Sentinel Primêre Skool in Hangberg, Houtbaai.

“Mense besef nie hoe oorweldig hulle is en hoe hulle aggressiewe uitbarstings negatiwiteit na die klaskamer bring nie. Die kinders kom uit kwesbare agtergronde waar daar baiekeer nie ’n ouerfiguur is nie.

“Onderwysers moet die rol van opvoeder én versorger speel. Dit kan ’n groot tol eis,” sê Surya.

Onderwysers van die Morawiese Primêre Skool Christian David in Steenberg het – nadat hulle aan ’n Wise-werksessie deelgeneem het – baie kalmer en positiewer voorgekom.

Surya sê die Wise-welstandsprogram vir onnies is ontwerp rondom positiewe sielkundige tegnieke. Deelnemers doen onder meer joga en biodanza, ’n tipe dans.

Surya deel van haar wenke om leerders en opvoeders te help om kalm te bly in die stresvolle eksamentyd wat voorlê:

  • Haal diep asem – dit verminder stres.
  • Chill-tyd – sorg dat jy pouses van 5 tot 10 minute tussen studie of onderrig neem.
  • Fisieke oefening – dis een van die beste de-stressors.
  • Bly positief.
  • Beplan vooruit. As jy by jou werk- of studieskedule hou, sal jou mindset outomaties meer gerus en beter toegerus wees om stres te hanteer.
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters