10 dae gelede
Water: ‘Ek laat my nie boelie’
kopseer: Lancia Voigt sê die City vat haar vir ’n waterlesing-ride.Foto: verskaf  ~ 

DIE Stad Kaapstad moenie dink hulle gaan háár ’n kop aansit met hulle water­konkelgedagtes nie.

Só sê ’n vasberade Lancia Voigt van Blackheath.

Voigt sê sy sukkel al sedert Mei om die Stad so ver te kry om hulle beleid oor estimated­/actual watermeterlesings aan haar te verduidelik, want hulle waterverbruik as huishouding maak nie sin nie.

Maar, sê sy, antwoorde is haar nie beskore nie.

“Ons probleem het in Mei begin toe tikkoppe die koper- parte uit ons ou watermeter gesteel het en ons pype toe gelek het.

“Ná veel van ’n gesukkel het die council die lekkasie kom regmaak, en toe, sonder om met ons te konsulteer, sit hulle die vaal watermeterleser buite ons erf in en dié watermeter kom toe met ’n waterbeperking van 350 F per dag.”

Voigt sê sy het nie ’n probleem met dié beperking gehad nie.

“Ek is all for waterbesparing en dit was mos in die tyd waar ons damme erg aan die leë kant was. Maar toe ek ’n waterrekening kry waar ons dan nou méér vir water betaal oor ’n kwansuis hoër waterverbruik, het ek ’n rot geruik.”

Voigt sê haar navrae aan die Stad oor haar waterverbruik lei tot niks.

“Al die officials kom met stories, maar nie een kan my ’n regte antwoord gee nie.

“Verder het hulle ’n attitude, maar ek gaan my nie laat boelie nie, want ek voel die City is nie net besig om mý vir ’n ride te vat nie, maar al die mense van die Kaapse Vlakte.”

Die Stad se mayco-lid vir informele nedersettings, water, waste services en energie, Xanthea Limberg, sê estimated water­meterlesings is voorheen gebaseer op dieselfde periode ’n jaar vantevore, maar dat die erge droogte en waterbeperkings die waterverbruikspatrone van inwoners verander het.

Limberg sê werkers het Voigt se watermeter gaan uitcheck nadat sy (Voigt) gesê het dit is foutief.

“Geen fout kon egter gevind word tydens die observasie en diagnostic toetse op die meter nie.

“As die verbruiker steeds volhou dat die betrokke meter foutief is, kan sy aansoek doen vir ’n meer comprehensive watermetertoets waar die betrokke watermeter na ’n lab geneem word vir toetse,” het Limberg gesê.

Voigt sê dié toetse beloop meer as R1 500 en daar is geen waarborg dat die Stad haar vir die koste sal kompenseer nie.

“Hoekom moet ek anyway opdok vir hulle foute­?”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters