Verlede maand
‘Waarsku hom en jy's dood'
Beskuldigde nr.6: Volgens ’n staatsgetuie was Brent Campbell by ’n skietvoorval in Belhar betrokke.  ~ FOTO VERSKAF

AS HY sy voormalige Terrible Joster (TJ) -bendebroer Tyrone Constable oor die hit op hom sou waarsku, was daar consequences.

Só het die staatsgetuie vandeesweek in die Kaapse hooggeregshof getuig in die saak waarin 12 vermeende Terrible Josters teregstaan op 71 klagte, insluitend moord, poging tot moord en dwelmsmokkel.

Die getuie het aan die hof gesê as hy Constable gewaarsku het oor die beplande hit op hom, sou hy ook vermoor word.

Volgens die getuie is Constable aan die Sexy Boys-bende oorgegee en vermoor nadat hy die bende se hit man Wayne Lekeur afgehaal het.

Ná die Lekeur-moord het Elton Ely, die TJ’s se vermeende bendeleier in Belhar, ’n oproep van Jerome “Donkie” Booysen ontvang.

Dié het na bewering gedreig hy sal sy ma vermoor as hy Constable nie oorhandig nie.

Volgens die getuie is die oorhandiging gedoen en Constable is toe vermoor.

“Beskuldigde 5 (Ely) het vir my gesê ek moet nie die phone optel vir Tyrone nie en as ek nie na hom luister nie, sal hy my doodmaak.

“Ek sal nie teen beskuldigde 5 gaan nie omdat hy hoër in die gang is.”

Onder kruisondervraging is dit aan die getuie gestel dat daar niks in sy verklaring is wat beskuldigde 5 se rol in die hit stipuleer nie.

“Ek het vir Bonthuys gesê, maar hy wil net geweet het wie vir Tyrone doodgemaak het,” getuig hy.

Bonthuys is een van die cops wat die getuie se verklarings afgeneem het toe hy in 2015 staatsgetuie gedraai het.

Volgens die getuie was Constable ook betrokke by die hit op Brandon “Mablou” Dickson.

Hy was ook die een wat vir Horatio Solomons gesê het Fa­bian Constable moet Dickson gaan skiet.

In die gesprek wat, volgens die getuie, by Solomons se huis in Roosendal plaasgevind het, was beskuldigde 2, Ismail Ockerts, ook daar.

Die getuie het voorheen hieroor getuig en gesê Solomons het vir Ockerts gesê hy moet die vuurwapen gaan haal. Hy het die gun vir Fabian gegee.

Opdrag

Fabian het volgens die getuie Dickson een keer in sy kop geskiet.

Ná die koelbloedige moord op Dickson is die vuurwapen aan beskuldigde 6, Brent Campbell, gegee om terug Roosendal toe te neem.

Onder verdere kruisondervraging is die getuie gevra oor ’n skietvoorval in Anreithstraat in Belhar.

Hy het vroeër getuig Campbell was by dié voorval betrokke.

Volgens die getuie het hy en Campbell van Ely opdrag gekry om op ’n rival bende in Anreithstraat te gaan skiet.

Volgens Ely se lawyer ontken Ely hy was in die getuie se teenwoordigheid of omgewing. Hy ontken ook dat hy ’n gesprek met die getuie en Campbell oor die skietvoorval gehad het.

“Nee, hy was saam en hy het die opdrag gegee. Hy het ons gestuur om almal in die huis te gaan skiet,” het die getuie getuig.

Dit is verder aan die getuie gestel dat hy nie by die voorval betrokke was nie.

“Ons het dit gedoen,” het hy verder getuig.

Volgens die getuie het hy en Campbell op die huis geskiet “totdat daar nie meer bullets was nie”.

Die getuie is gevra hoe hy geweet het Campbell se vuurwapen is leeg.

“Toe die gun click, click, click maak, is ons klaar,” getuig hy.

Die saak gaan Woensdag voort.

afgemaai: Tyrone Constable is na bewering deur die Sexy Boys-bende vermoor.
beskuldigde nr. 9: Fabian Constable het Brandon “Mablou” Dickson na bewering vermoor.
Ismail Ockerts
Elton Ely

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters