3 maande gelede
Vrou wis haar hele gesin uit
TRAGEDIE: Teresa Meyer het glo haar man, twee kinders en haarself doodgeskiet.FOTO VERSKAF  ~ 

HANGENDE sake van bedrog het glo ’n vrou daartoe gedryf om haar gesin uit te wis.

Teresa Meyer (48) van Moorreesburg het skokgolwe deur die land gestuur nadat sy na bewering haar man, Luhan (58), seun, Luhan jr. (10), en dogter, Lurese (12), op ’n gasteplaas in die Cederberge doodgeskiet het.

Sy het haarself daarna om die lewe gebring.

Al vier gesinslede het kopwonde gehad.

Netwerk24 berig Teresa was glo die baasbrein agter ’n bedrogsaak waarin Absa luidens ’n klagstaat met meer as R41 miljoen ingeloop is. Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (Sars) is glo ook met R4,9 miljoen bedrieg.

Die beweerde misdrywe het glo tussen 2008 en 2010 in Hennenman, Jacobsdal, Bloemfontein, Welkom en Kimberley gebeur.

Depressie

Volgens Netwerk24 het die gesin voorheen in Bloemfontein, Kuruman, Kimberley, Ceres, Riebeek-Wes en KwaZulu-Natal gewoon.

Hulle het in 2016 Moorreesburg toe getrek.

’n Buurvrou beskryf Teresa as ’n stil mens wat meestal binnenshuis was en wat aan depressie gely het.

Op die sosiale netwerk Facebook het menige gal gebraak oor die voorval.

Baie het gegis oor die moontlike rede agter die skietvoorval en hoekom die kinders ook dan doodgeskiet is.

Sers. Noloyiso Rwexana, ’n polisiewoordvoerder, sê die Clanwil­liam-polisie ondersoek klagte van moord. Die cops het ’n dossier aangelê vir ’n geregtelike doodsondersoek oor die voorval.

Rwexana voeg by hulle voorlopige ondersoek dui daarop dat die moorde tussen 18 en 27 Junie gepleeg is.

Die omstandighede rondom die voorval word ondersoek, het Rwe­xana verduidelik.

Die gasteplaas waar die tragedie hom afgespeel het, is baie afgeleë en daar is slegs drie rondawels.

So afgeleë en weg van die beskawing is dit dat pogings om in die week daar ’n draai te gaan maak, vrugteloos was.

Uitken

Dit is omdat die Olifantsrivier sy walle oorstroom het en die oorgangsbruggie onder water was.

Familielede van die gesin Meyer het hulle reeds in die lykhuis in Vredendal gaan uitken.

Hulle wou nie oor die oorsaak van die tragedie bespiegel nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters