Verlede maand
Vrou voel vergete in die donker
TUISTE: Trudy Isaacs buite haar tweeslaapkamer-bungalow.  ~ 

HAAR hele lewe lank woon ’n ma van vyf in ’n hokkie.

Vir Trudy Isaacs van Idasvallei in Stellenbosch is die tweeslaapkamer-bungalow in Juffernbruchstraat ál wat sy ken.

Maar nou sal die 48-jarige Isaacs dalk moet verhuis nadat haar ouerhuis verkoop is.

Isaacs sê met ’n seer hart sy kan haar nie indink dat sy van haar geboorteplek af moet wegtrek nie.

“Al moet ek net hier in my bungalow bly, sal ek. Maar trek na ’n ander dorp toe is nie iets wat ek myself kan sien doen nie,” sê sy.

Volgens Isaacs het haar oorlede skoonsuster die huis drie jaar ge­lede verkoop sonder om haar daarvan te vertel.

“Ek het maar op die straat uitgevind my ouerhuis is verkoop. Ek was geskok omdat dit my in ’n moeilike situasie sit.

Kook

“Ek het kinders en twee van hulle is nog op skool. Ongelukkig is ek nie geregtig op die huis nie.”

Isaacs sê hulle krag is ook twee weke gelede afgesit.

“Ek kan nie kook nie. Ek kan nie eens klere was of stryk nie.

“Ek moet my bure vra om vir my lig te verskaf. Ons hoop ook maar dat niemand in die middel van die nag sal kom en ons besteel omdat dit donker is nie,” sê sy.

Isaacs sê dis onmenslik om so te bly. Dit voel asof daar net van haar en haar familie vergeet is.

“Volgens die hof is ek en my susters nie geregtig op die huis nie omdat my broer se vrou die huis geërf het.

“Ons sukkel klaar en nou voel ek asof ek nie hier hoort nie. Vir jare wag mense om hulle huis te kan besit en net so word dit onder ’n mens se neus weggeneem,” sê sy.

Isaacs sê sy is op ’n behuisingslys, maar daar kom niks van nie.

“Ek het gaan navraag doen oor my posisie op die lys, aangesien ek nie geregtig is op my ouerhuis nie. En daar word net gesê ek moet wag,” vertel sy.

Isaacs vertel egter sy is intussen ingelig dat daar ’n huis vir haar in Jamestown beskikbaar sal wees.

“Moet ek nou rêrig van een hokkie na ’n ander trek? Wat dink die munisipaliteit dan van ’n mens?

“Ek kom van dié dorp en vir 48 jaar bly ek in ’n jaart. Moet ek vir nóg 48 jaar in ’n hokkie woon?” vra sy.

Isaacs sê sy is nie ál inwoner wat sukkel om ’n huis te kry nie. “Hier is honderde mense wat so woon. Wie gaan ons help? Wanneer sal dinge verander?” vra sy.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
2 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters