14 dae gelede
Vrou red 3 meisies van tikkoppe

’N BEKOMMERDE inwoner van Uitsig op die Kaapse Vlakte het verlede naweek drie kinders van die Holy Cross Children’s Home uit die kloue van tikkoppe gered.

Die drie minderjarige meisies het van die kinderhuis in Parow weggeloop en in Uitsig rondgeloop.

Shaaheda van der Ross (39) sê twee van die meisies is 10 en die ander een 11 jaar oud.

Hulle het Maandag, Vrydag en Saterdag in Uitsig rondgedwaal.

’n Bekommerde Van der Ross sê: “Dit is jong meisiekinders en enige iets kan met hulle gebeur.

“Ons jong meisiekinders word ontvoer en vermoor. Hulle is in die staat se veiligheid en behoort beskerm te word.”

Volgens Van der Ross het sy twee meisies verlede Maandag in Uitsig opgemerk. Sy wou by hulle weet waarom is hulle nie in die skool nie.

Van der Ross sê: “Die kinders het my vertel hulle het van die home af weggeloop.

“Ek het die polisie gebel, maar hulle het nie uitgekom nie.

“Die middag omstreeks 14:00 het ek hulle met my bakkie terug na die kinderhuis geneem.

Hekke

“By die kinderhuis het die huismoeder my na die maatskaplike werker geneem.

“Daar was niks sekuriteit by die hekke nie en die kinders het buite rondgedwaal.

“Ek is ingelig dat die kinders gewoond is van die skool weghardloop en dat hulle niks daaraan kan doen nie.

“Die Vrydagmiddag en die Saterdagaand was die kinders weer in Uitsig.

“Saterdagaand het ek hulle omstreeks 22:00 terug geneem.

“Die hekke was gesluit en niemand het oopgemaak nie.

“Ek het toe die kinders na die polisiestasie geneem waar hulle die nag deurgebring het.”

Volgens Van der Ross vrees sy die kinders kan doodgemaak of verkrag word, want hulle hang met tikkoppe uit.

Bernard Engel, bestuurder van die Holy Cross Children’s Home, sê: “Ons het ’n situasie van tyd tot tyd van kinders wat wegloop.

“Ons is besig om ekstra sekuriteit te kry om die probleem te stop.

“Dit is ’n groot probleem, want die kinders sit hulle lewe in gevaar.

Opleiding

“Ons verduidelik aan die kinders van die gevaar, maar nie almal luister nie.”

Volgens Joshua Chigome, woordvoerder van die Wes-Kaapse departement van maatskaplike dienste, weet hulle daar is probleme met sommige van die kinders.

Chigome sê: “Ons is besig om opleiding aan die personeel van die kinderhuis te verskaf oor prosedures wat gevolg moet word as dit kom by die veiligheid en sekuriteit van die kinders. Ons monitor die situasie en sal in die beste belang van die kinders optree.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters