15 dae gelede
‘Vrot lyk’ is vir geliefdes groot skok
OMGEKRAP: Rachelle Dass van Eersterivier beweer haar broer, Nicholas Mark Olivier, se lyk het twee weke in die Tygerberg-lykhuis gelê en vrot omdat dit nie in ’n vrieskas gebêre is nie.  ~ Peter Abrahams

‘ONS moes ’n vrot lyk begrawe.”

Só beweer die familie van Nicholas Mark Olivier (54) van Eersterivier nadat sy lyk twee weke in die Tygerberg-lykhuis gelê het.

Volgens sy suster, Rachelle Dass (58), is sy lyk nie in ’n vrieskas gehou nie oor hy nie ’n identiteitsdokument gehad nie.

’n Omgekrapte Dass sê: “Sy lyk was erg vrot en ontbind en was onherkenbaar.

“Sy lyk was heel toe die paramedici dit by die huis kom haal het.

“Dit was nie dieselfde lyk wat ons nog laas gesien het nie.

“Dit was ’n verskriklike gesig om te aanskou.

“Die wurms het by die lyk uitgepeul en die stank was ondraaglik. Ek wou uithardloop by die lykhuis toe hulle die lyk vir ons wys.

“Ek kon nie glo dit was my broer nie.”

Besonderhede

Volgens Dass was haar broer die laaste drie maande siek.

Hy het in sy bungalow afgesterf, maar hy het nie meer ’n ID gehad nie, want hy het dit verloor.

Nicholas se broer, Henry, sê uit Ravensmead hulle het die para­medici en polisie van al sy besonderhede voorsien voordat die lyk verwyder is.

Hulle het die volgende dag na binnelandse sake gegaan om ’n tydelike ID te kry. Maar oor hulle nie ’n volledige ID-nommer van Nicholas gehad het nie, kon niemand hulle help nie.

Vir twee weke het die familie rondgehardloop om ’n ID-nommer te bekom. Op 17 Desember het hulle ’n verkorte geboortesertifikaat gekry om Nicholas se lyk uit te ken.

Henry sê: “Ons het die volgende dag saam met die ondersoekbeampte die lyk gaan uitken.

“Ons het onraad vermoed toe ons amper heeldag daar moes wag.

“Toe hulle ons na die kamertjie roep, het daar ’n stink reuk in die lug gehang.

“Sy lyk was erg ontbind en sy ore was al afgevrot. Dit was ’n nare ondervinding.

“Ons is baie geskok en hartseer oor wat gebeur het.

“Ek het nie so iets van ’n staatslykhuis verwag nie.

“Hulle het hom as ongeïdentifiseerde persoon ingeboek terwyl ons ál die besonderhede vir die polisie gegee het.”

Volgens Byron la Hoe, woordvoerder van die departement van onderwys, het die familie nie ’n geldige identiteitsdokument gehad om die lyk uit te ken nie.

La Hoe sê: “Daar was geen teken van erge ontbinding van die lyk gedurende die outopsie wat op 6 Desember plaasgevind het nie.

Ontken

“Die lyk is op 17 Desember aan die begrafnisondernemer oorhandig en hulle het nog geen formele klagtes ontvang nie.”

Die departement ontken ook die bewering dat die lyk nie in ’n vrieskas gebêre is nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters