19 dae gelede
Vriend én vyand in gangster-hel
in dock: Die getuie sê Elton Ely is die leier van die TJ’s in Belhar se Extension 13. FOTO’S VERSKAF  ~ 

DIE dood is die currency van gangsters.

Vir net jou vingers wys of drugs gebruik met ’n dikding se familie kan jy met jou lewe betaal.

Dit is van die skrikwekkende getuienis wat die laaste paar dae in die Kaapse hooggeregshof uitgekom het.

In die getuiebank is ’n voormalige gangster wat self by verskeie hits betrokke was. Hy is onder witness protection en sy naam mag nie gepubliseer word nie.

Skrikbewind

In die beskuldigdebank is 12 vermeende lede van die gevreesde Terrible Josters-bende (TJ’s), wat wet slaan in Delft en Belhar.

Die bende, het die hof gehoor, het sowat 10 000 lede wat ’n skrikbewind in hulle gemeenskappe voer – teen vriend en vyand.

Die getuie, self ’n voormalige TJ, het getuig hy was drie maande in die Goodwood-gevangenis, waar hy die 28-merk gevang het.

Onder die 12 beskuldigdes is daar 2 TJ-leiers, Horatio “Voudie” Solomon en Elton Ely, sê die getuie.

Die 12 staan tereg op 71 klagte, wat moord, poging tot moord, dwelmhandel en oortreding van die Poca-wet insluit.

Een van die beskuldigdes is die getuie se broer.

Volgens die getuie is Solomon die leier van die gang in Delft, Roosendal en Elsiesrivier, en woon hy in Vuurleliesingel, Roosendal.

Ely is volgens hom die leier van die TJ’s in Extention 13, Belhar, en hy’t ’n woonstel in die Wilgerpark-kompleks in Bellville. Dis sowat 20 minute se ry vanaf Vuurleliesingel, het hy getuig.

Die getuie was betrokke by sommige van die hits; in die meeste gevalle was hy die driver van die getaway-kar.

Hy’t ook drugs aan Jermaine “Piggels” Mckenzie, ’n Junior Mafia hitman, gegee om Jermaine “Joey” Louw in 2012 in Belhar dood te skiet.

Louw is uitgehaal omdat hy volgens die getuie tik gerook het saam met die dogter van Ernie “Lastig” Solomon, vermeende eks-leier van die TJ’s.

Sowat ’n jaar later is Mckenzie self doodgeskiet nadat hy dreig-vingertekens aan die getuie gewys het. Daar was toe ’n gang war tussen die Junior Mafia’s en TJ’s aan die gang.

Mckenzie was volgens die getuie ’n hitman vir George “Geweld” Thomas”, die gevreesde 28-dikding. Mckenzie was ’n free-agent hitman wat enige bende kon huur.

Geweld dien tans sewe lewenslange vonnisse uit vir ’n hele rits misdade, waaronder moord.

Die getuie het Mckenzie se twee vermeende moordenaars self opgelaai, van guns voorsien en later ná die skietvoorval weer opgelaai.

Hoek

Die meeste van die 11 moorde op die klagstaat is in Belhar Extension 13 gepleeg, asook rondom Solomon se area.

Neano Kleynhans is op die hoek van Bloemendallaan en Batavia­rylaan doodgeskiet.

Volgens die getuie was Kleynhans ’n teiken oor Ely geglo het hy’s die vermeende Sexy Boys-leier Jerome “Donkie” Booysen of Colin, sy broer, se seun.

Ander slagoffers was Brandon “Mablou” Dickson, Levert “Sharky” Seekoei, Leon “Lyons” Davids, Vernon­ Botes, Aubrey Johannes, Wayne “Lonty” Lekeur, na bewering ’n Sex Boy hitman, en die skoolseun Lorenzo de Kock.

Dié moorde is tussen 2012 en 2014 gepleeg. Die getuie sê hy het in Son gelees De Kock was ’n leerder by Hoërskool Roosendal.

Dit het ook in die hof uitgekom Solomon het guns by ’n huis skuins oorkant sy huis in Vuurleliesingel naby ’n boom gebêre. Sommige van die vuurwapens is in van die moorde gebruik, het hy getuig.

Die saak duur môre voort.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters