15 dae gelede
Vonke spat nadat kragreus stem dik maak
DONKERTE WINK: As Eskom sy dreigement uitvoer, is dit een van die dae nag vir die inwoners van Springbok.  ~ Isaac Cloete

AS ESKOM sy sin kry, sal duisende mense binnekort in stikdonkerte gehul gewees.

Dis voorwaar ’n duister nuwe jaar – benewens nou die sporadiese skedulering van die nuwe “vloekwoord,” naamlik beurtkrag.

Bekommerde inwoners van die Nama Khoi Munisipaliteit (NKM) in Springbok vrees ’n selfs donkerder prentjie nadat Eskom ’n advertensie in die koerant geplaas het.

Hierin word inwoners weer daaraan herinner dat die kragreus die toevoer vanaf 21 Januarie gaan sny weens hulle enorme skuld.

Dit is algemeen bekend dat die NKM ’n bietjie meer as R113 miljoen skuld. Dié skuld kom al bloue jare aan. Dit gaan weens verskeie redes nie gou afbetaal word nie.

In November het Eskom reeds deur middel van ’n openbare advertensie die inwoners ingelig dat hulle weens wanbetaling die kragtoevoer na die NKM vroeg in 2020 sporadies gaan afsny.

Die burgerregtegroep AfriForum moes toe die gemoedere help kalmeer.

Hulle het aangedui hulle advokate is op ’n gereedheidsgrondslag, sou Eskom voortgaan om die krag af te sny.

Sarel Stone, AfriForum se voor­sitter in Springbok, het die afgelope week gesê hulle is steeds by die saak betrokke en sal die situasie fyn dophou.

AfriForum dink egter die probleem is die NKM se skuld en nie Eskom s’n nie.

Liggiefees

Onreëlmatige uitgawes by die NKM het die vorige boekjaar meer as R198 miljoen beloop.

Ten spyte hiervan is daar in Desember ’n liggiefees gehou.

Dit het baie inwoners warm om die kraag gemaak.

Die NKM het intussen die vrede probeer herstel deur ’n verklaring uit te reik.

Daarin blameer hy Eskom vir die paniek onder inwoners.

Dit lui: “Die NMK wil die gemeenskap gerusstel dat daar reeds regsprosesse is om te keer dat Eskom voortgaan met die ontkoppelingsproses.

“Ons wil die gemeenskap verseker dat daar gereeld maandeliks betalings aan Eskom gedoen word.”

Dit is ook bekend dat die NKM ’n energiekenner aangestel het om te help bepaal waarom Eskom se rekening na bewering foutief is.

Na bewering hef Eskom verkeerdelik rente en lê boetes op wanneer die vraag na elektrisiteit oorskry word. Hieroor het die NMK gedurende die boekjaar 2018-’19 ’n dispuut met Eskom verklaar.

Intussen is daar tog simpatie vir die penarie van die NKM.

Baie inwoners wil ook weet waarom die Eskom-skuld van munisipaliteite in die Oos-Kaap afgeskryf is.

Ander vra waarom inwoners van Soweto al so lank toegelaat word om geen Eskom-rekening te betaal of kop toe te vat nie.

Samantha Tatas, munisipale bestuurder, het Donderdag laat weet hulle staan steeds by die inhoud van hulle verklaring.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters