Verlede maand
Vermeende bendelede sal maar moet sit
dik ding: Beskuldigde nr. 1, Elton “Koffie” Lenting, het volgens die staat ander aangemoedig om by kriminele aktiwiteite betrokke te raak. FOTO’S VERSKAF  ~ 

SPOG nóg op sosiale media met jou gangster-tjappies en handtekeninge, dit sal jou Krismis en Nuwejaar in die mang hou.

Vir 14 vermeende Terrible Joster-bendelede is dit presies wat gebeur het.

Hulle borgtog-aansoek is Woensdagoggend in die Kaapse hooggeregshof geweier.

Hulle brag op sosiale media vir die hele wêreld om te sien dat hulle lid van die gang is.

So het regter Robert Henney laas week in die Kaapse hooggeregshof gesê oor die vermeende lede van die Terrible Joster-bende.

Die 14 verdagtes, deel van ’n groep van 20 vermeende bende­lede, het in die hof verskyn om vir borgtog aansoek te doen.

’n Allemintige 200 klagte staar hulle in die gesig en dit sluit 14 moorde, poging tot moord, dwelmsmokkelary en die besit van dwelms sowel as die oortreding van die Poca-wet in.

Die staat voer aan dat beskuldigde nr. 1, Elton “Koffie” Lenting, en beskuldigde nr. 2, Raymond “Muis” Arendse, onregmatig die ander beskuldigdes aangehits en aangemoedig het om aan kriminele bende-aktiwiteite deel te neem.

“Hoewel daar party van hulle is wat deur minder aanklagte in die gesig gestaar word, word hulle almal aangekla van die hulp en optrede van bende-aktiwiteite. Die bewyse is oorweldigend deur te wys dat hulle almal lid van die bende is wat onder beskuldigde 1 of beskuldigde 2 optree en tot die patroon van bendebedrywighede bygedra het.”

Dit beteken hulle almal oortree die Poca-wet.

“Ek is nie oortuig daarvan dat hulle vrylating in die belang van die publiek of geregtigheid sal wees nie, en daarom word borgtog van die hand gewys,” sê Henney.

Die hof het ook gehoor Lezay Booysen en Bradley Roberts is tans betrokke by ’n ander verhoor, waarin 12 vermeende Terrible Jos­ter-bendelede teregstaan op ’n volle 71 klagte. Die twee is deel van die groep van 20 beskuldigdes.

Hulle is volgens die staatsaanklaer adv. Helene Booysen vermeende hit men. “Hulle operate in albei groepe,” voer sy aan.

“Hulle is ’n gewelddadige, kriminele bendegroep wat niemand toelaat om in hulle territory te operate nie,” sê Booysen.

Henney het die hele spul se borgtog-aansoek geweier nadat hy verwys het na die oorweldigende bewyse in die forum van sosiale media, sowel as foto’s wat van selfone afgelaai is.

Verskyning

Sommige van die selfoonfoto’s is van Ismail Ockerts, vermeende lid van die bende, se selfoon afgelaai en ander van nóg ’n beskuldige wat een is van die groep van 20.

Volgens Booysen is Ockerts die right-hand man van die vermeende Terrible Joster-bendebaas, Horatio Solomon, tans beskuldigde nr. 1 in die huidige bendeverhoor.

Solomon maak ook ’n verskyning in ’n paar van die foto’s waar hy langs vermeende lede van die groep van 20 gesien kan word. Die foto’s is ook van Ockerts se foon afgelaai.

Ander foto’s wat deur die staat gebruik is as bewyse dat die beskuldigdes lid is van die bende en dat hulle gekoppel is met mekaar of ’n bende, verwys na tatoes.

Die meeste van die vermeende bendelede het tjappies op hulle lyf. Die tatoes wissel van die nommers “28” tot die woorde “Firm”, “The Firm”, “Terrible, Terrible Josters”, “Why Me” en die letters “TJ”.

Dan is daar sterre wat verwys na gunjas, asook die woorde “Son Af” en die woorde “Terrible people do terrible things”, onder meer.

Een van die beskuldigdes het ook die woorde “Guns and bombs I carry them princes and queens I marry them but bitches like you I barry them” op sy lyf.

Die 20 vermeende bendelede sal eers volgende jaar weer in die hof verskyn vir ’n laaste voorverhoor. Daarna sal hulle verhoor na verwagting in Mei begin.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters