9 dae gelede
Verlange bly hang
Herinneringe: Oom Godfrey Lindt sê hulle het lief geraak vir die laitie.  ~ Eldridge Jason

OOM Godfrey se hart is seer. Diep seer.

Die verlange sit vlak in sy oë.

Die verlange maak hom nou al drie jaar lank klokslag middernag wakker.

Hy hunker na Cristiano. En hier praat ons nou nie van die Portugese sokkerster nie.

Die rusteloosheid het oom Godfrey Lindt (59) van Fisantekraal naby Durbanville beet nadat die welsyn hulle grootmaak-kind, Cristiano­ Henry (6), uit hulle sorg verwyder het.

Storie

In April 2015 het sy mammie by hom en sy vrou, Gertruida, kom bly toe hulle nog ’n shelter vir abused vroue en kinders bedryf het.

’n Paar dae later het Cristiano se mammie ’n storie gespin dat sy haar ID moet gaan uitsort.

Sy is só weg dat sy nou nog weg is, vertel oom Godfrey.

Hy sê ’n welsynwerker van die departement van maatskaplike ontwikkeling het klein Cristiano dadelik in hulle sorg geplaas.

“Die hof het hom vir drie maande in ons sorg geplaas en gestipuleer die staat moet ons R15 per dag betaal vir die tyd dat Cristiano in ons sorg was.

“Die eerste drie maande was alles fine en is alle betalings gedoen. Maar toe stop die betalings en toe my vrou, Gertruida, hieroor op Facebook raad vra, het ons nag­merrie begin.”

Antie Gertruida brei uit: “Ek het nie name in my Facebook post genoem nie, maar wou eintlik net uitvra oor hoe ’n mens hierdie situasie moet hanteer.

“Onthou, daai tyd toe bly Cristiano al langer as ’n jaar by ons, veel langer as die hof se voorgeskrewe drie maande.

“Ek vermoed ’n kollega van hierdie social worker moes die post gesien en vir haar gaan wys het, want die social worker trek toe hier op, skel ons lelik uit en gaan haal vir Cristiano by sy crèche.

“Dit was die laaste keer dat ons hom gesien het.”

Byna vier jaar later huil oom Godfrey nog altyd oor sy grootmaak-kind.

By Son op Sondag se besoek gaan haal hy ’n fles lekkers uit wat Cristiano met sy laaste besoek daar gelos het.

“Ek hou dit nog hier. Dit is sy lekkers.

“Ek glo ons gaan hom terugkry. Dit gaan vir ons lankal nie meer oor die geld nie.

“Ons huis is die enigste ware huis wat Cristiano geken het en waar hy gelukkig was.

Tehuis

“Ons sal hom uit ons eie sakke grootmaak.

“Cristiano moet huis toe kom. Sy lekkers wag vir hom ...”

Cristiano word tans gehuisves in ’n tehuis in Bellville.

Son op Sondag wou by die Wes-Kaapse departement van maatskaplike ontwikkeling weet hoekom ’n kind huisvesting geweier word van ouers wat hom so lief het soos een van hulle eie.

  • ’n Departementele woordvoerder, Joshua Chigome, het beloof om op die saak in te kyk.

Dit was Dinsdag. Ons wag nou nog op daai beloofde kommentaar.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters