15 dae gelede
Veiliger skole: Unie het plan
VASBESLOTE: André de Bruyn van Eusa glo meer moet gedoen word om leerders en onnies se veiligheid te verseker.  ~ Foto Verskaf

DIE vakbond Educators’ Union of South Africa (Eusa) doen ’n ernstige beroep op die regering om skole in 2020 te beveilig deur twee polisiereserviste of -lede by skole aan te stel, veral in gebiede waar geweld daagliks voorkom.

André de Bruyn, Eusa-hoof in die Wes-Kaap, sê: “Die veiligheid van almal by skole is ’n prioriteit.

“Luidens die beleid van die departement van basiese onderwys is skole veronderstel om plekke van veiligheid vir die opvoeders, ondersteuningspersoneel en leerders te wees.

“Ongelukkig faal die regering om sy eie beleid uit te voer. Daarom dring Eusa aan dat twee polisiereserviste of -lede onmiddellik aangestel word. Sodoende sal geweld wat voor en ná skool voorkom, ook bekamp word.”

De Bruyn sê geweld lei dikwels tot beserings en selfs sterftes by skole. “In 2019 het ons opvoeders en leerders aan die dood afgestaan, en ons kan nie so ’n legacy in ’n nuwe dekade hê nie.

Hart

“Selfs in vakansies is skole die teiken van misdaad en dit het ’n impak op die operasionele aspekte van enige skool.

“Hoe kan ouers aan die begin van ’n nuwe skooljaar hulle kinders met ’n geruste hart skool toe stuur as die regering nie omsien na die basiese reg op veiligheid nie?

“Die opleiding en inskakeling van reserviste of polisielede is van uiterste belang, want dit bied verdere geleenthede vir gemeenskappe en maak die gemeenskap deel van skoolveiligheid.”

De Bruyn voeg by Eusa sal ook aanhou veg vir die toegang van onderwysers en ondersteuningspersoneel tot hulle eie pensioen.

“Dit verhinder ook die staat om sy hande op opvoedkundige personeel se pensioen te kry om dalk die sukkelende staatsondernemings uit te bail.

“Die geld behoort aan diegene wat daarvoor gewerk het, en die bestuur van elkeen se pensioen kom die individu toe.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters