6 dae gelede
Vegter vereer vir toewyding
Held: Dan Plato en lede van die District Six Working Committee by ’n gedenkplaat. Heel regs is raadslid Marian Nieuwoudt.FOTO’S VERSKAF  ~ 

DIE huldeblyke stroom nog in vir Shahied Ajam (62), die ontslape voorsitter van die District Six Working Committee.

Ajam het Saterdag 6 Junie weens ’n hartaanval gesterf.

Die Stad Kaapstad het Maandag en gister hulde gebring aan ’n “leier en visionêr” wat gehelp het met die proses om Distrik Ses in ere te herstel.

Volgens die burgemeester, Dan Plato, is dit ’n klein gebaar om Ajam te vereer vir die harde werk wat hy ingesit het in die District Six Working Committee.

“Saam met die nasionale regering hoop ons om voort te gaan om met die District Six Working Committee saam te werk om families te help terugkeer na die gebied.”

Gister is ’n spekboom in Hanoverstraat geplant. Dit verteenwoordig nuwe lewe.

Maandag het Plato linte aan die bome gebind, ook in Hanoverstraat.

Duisende mense is in die apartheidsjare met geweld uit dié woongebied verwyder.

Hulle is in plekke op die Kaapse Vlakte gaan dump.

Howe

Ajam was die sleutelfiguur wat gehelp verseker het dat duisende mense na hul voormalige woonplek kon terugkeer.

Die komitee, met Ajam aan die voorpunt, het tot in die hoër howe geveg dat die inwoners na Distrik Ses kon terugkeer.

Hulle het die geveg in die hof uiteindelik gewen.

Marian Nieuwoudt, die Stad se mayco-lid vir ruimtelike beplanning en omgewing, sê Ajam was ’n nederige man.

“Hy was baie toegewyd om ’n nuwe Distrik Ses te sien.

“Ons het in sy leierskap ál drie sfere van die regering om een tafel gekry om die pad vorentoe te beplan.

“Ná die oorwinning in die hof het sy organisasie respek afgedwing.

“Alle rolspelers het ’n baken van hoop geword vir ander gemeenskappe oor die land heen wat ook van hul grond onteien is.”

Volgens Nieuwoudt was Ajam ook aan die voorpunt van die veldtog om die oorspronklike naam van Hanoverstraat weer terug te kry.

Deur die hele week is ligblou linte om bome in Hanoverstraat gebind ter nagedagtenis aan Ajam. Dit was die aktivis se gunstelingkleur.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters