26 dae gelede
Vat wag voor mond tog saam strand toe
g’n gevloek: Strandgangers sal eersdaags dalk hulle woorde versigtig moet tel as hulle strande soos dié van Kampsbaai in die somer wil besoek. Foto: WESLEY MARTIN  ~ 

HOU maar die vloekwoorde by die huis wanneer jy in die komende somer so ’n bietjie beach toe wil gaan.

As die Stad Kaapstad sy nuutste by-law in werking stel, gaan dit een van die dae onwettig wees om op Kaapse strande te vloek.

In 2012 het die City Kapenaars se bors behoorlik warm gemaak met ’n by-law waarvolgens honde-eienaars beboet gaan word as hulle honde vir meer as ses minute in ’n uur blaf.

Nou blyk dit die beurt te wees van Kapenaars wat ’n bietjie wil gaan lyf natmaak by ’n strand.

Hulle sal nou ook die wag voor hulle mond moet saamvat, of daar nou plek in die kar vir hierdie wag is of nie.

’n ANC-woordvoerder, Dennis Cruywagen, sê die voorgestelde by-law oor vloekery slaan hulle dronk.

“’n Mens sou dink dat die Stad Kaapstad belangriker kwessies het om aan aandag te gee, soos die bou van huise, die beëindiging van apartheid se ruimtelike beplanning, die herstel van paaie en om meer verkeersbeamptes aan te stel.

Lagwekkend

“So ’n by-law kom neer op die beperking van vryheid van spraak.”

Cruywagen sê die City is nou nie daarmee tevrede om hawelose se geslaap in strate onwettig te verklaar nie.

“Hulle (die Stad) sal dosyne mense moet aanstel om op en af op strande te loop en te wag vir mense om te vloek.

“Hierdie is niks anders as lagwekkend nie en wys net hoe crazy die DA is.

“Indien so ’n bylaw goedgekeur word, sal honderde daarteen gekant wees en dit sal my nie verbaas as die DA onder druk sal swig en hierdie planne skrap nie.”

Die Stad Kaapstad se mayco-lid vir ruimtelike beplanning en omgewingsake, Marian Nieuwoudt, sê egter organisasies soos die ANC sit die pot lelik mis... op die strand.

Volgens Nieuwoudt is ’n sleutel- aspek van hulle beoogde coastal by-law daarop gemik om die publiek se reg tot toegang tot ’n strand te verseker. Sy sê die gebruik van strande as open­bare ruimtes is ’n beskermde fundamentele reg.

Die Stad Kaapstad gaan oor die volgende vier weke ag openbare sessies regoor die stad hou waar inwoners en belangstellende partye insae kan lewer oor die beplande coastal by-law.

Niewoudt sê: “Die doel van hierdie coastal by-law is om ons kuslyn beter te beskerm en bestuur.

“Ons kuslyn lok jaarliks miljoene toeriste en locals, en die kuslyn van 307 km dra jaarliks ongeveer R40 miljard by tot die plaaslike ekonomie.

“Dit is ’n openbare asset en moet bewaar word vir die huidige en toekomstige generasies.

Kommentaar

“Die draft by-law sal ons help om die kuslyn beter te bestuur en wetstoepassing in te stel,” voeg Nieuwoudt by.

Lede van die publiek het kans tot 2 September om op hierdie voorgestelde by-law kommentaar te lewer.

Dit is by alle subraad-kantore en biblioteke regoor die Kaap beskikbaar, asook op die Stad se site by capetown.gov.za/haveyoursay.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters