11 dae gelede
Vallei is vry
HEKKE: Skole loop steeds erg deur ondanks talle veiligheidsmaatreëls.Foto: PETER ABRAHAMS  ~ 

SEDERT die skole gesluit het, was daar reeds 104 gevalle van inbrake en vandalisme by skole in die Wes-Kaap.

Die skole het op 18 Maart gesluit, twee weke voordat die lockdown begin het.

Volgens Kerry Mauchline, woordvoerder vir die Wes-Kaapse minister van onderwys, Debbie Schäfer, is maatreëls ingestel om skole tydens die lockdown te beskerm.

“Altesame 450 skole het sekuriteit gekry sedert dit gesluit het.

“Dit was aanvanklik deel van die vakansieprogram om skole veilig te hou.”

Mauchline sê hulle moes die skole 24 uur van die dag laat oppas.

“Die sekuriteit is in Mei verleng. Ander skole wat nie normaalweg deel is van die vakansieprogram om dit op te pas nie, is ook ingesluit.

Inlig

“Die veiligheid- en sekuriteit-cluster doen patrollies.

“In die Kaapstad-metro doen die SRO’s (school resource officers) van die metropolisie en law enforce­ment by skole diens.”

Mauchline sê die beste manier om skole veilig te hou, is deur ’n wakker gemeenskap wat wetstoepassers of die bestuur van die skool inlig as hulle iets ongehoords sien.

“Ons het onlangs gesien hoe die gemeenskap in Robertson (Langeberg-streek) diewe se planne fnuik toe hulle by die Masakheke Com­bined School wou inbreek.

“Ons hoop ander gemeenskappe sal ook wakker wees en vinnig optree en na hul skole kyk.”

Sy vra dat enige verdagte optrede by die polisie of Safe Schools aangemeld word.

In die Langeberg-streek is tot dusver in die lockdown by geen skole ingebreek nie.

Inwoners van verskeie dorpe in die vallei is baie bly hieroor. Hulle sê hul skole bly veilig en sekuriteitsmaatskappye moet beslis ’n klop op die skouer kry.

Nie alle skole het sekuriteitsgeriewe nie, en tog is daar nie by almal ingebreek nie.

Heelwat plaasskooltjies het byvoorbeeld nie onder vandale deurgeloop nie.

’n Ouer, Elsabé Nell, sê dis regtig iets waarop mense trots moet voel.

“Net om te dink, in sulke soort tye is skole mos die teikens van booswigte. Ons lees wat in ander dorpe en provinsies gebeur, maar ons skole bly safe,” het Nell gesê.

Volgens haar hoop sy net dat die situasie dieselfde sal bly hoe dieper die gemeenskap in die Covid-19-tydperk ingaan.

Lambertus van Wyk woon naby ’n plaasskooltjie in die Montagu-omgewing.

Van Wyk sê hy loer nog elke oggend by ’n paar plaasskole op die roete in wanneer hy tussen 06:00 en 09:00 fietsry.

Volgens hom sal hy die polisie onmiddellik in kennis stel as hy onraad merk.

’n Paar leerders van die Langeberg Sekondêre Skool sê hulle is ook baie verheug dat hul skool veilig is.

“Ons hou net duim vas dat dit so sal bly totdat ons teruggaan skool toe,” het die groepie gesê.

’n Security guard sê hy en sy kollegas is op en wakker en kyk uit vir enige inbrake, of dit nou by skole, huise of sakepersele is.

“Ons dien die gemeenskap met trots en ons hou graag ’n oog,” het die guard gesê.

Klagte

Aubrey Michaels, kringbestuurder van die Wes-Kaapse onderwysdepartement in die Langeberg-streek, het gesê hulle het tot op datum geen voorvalle van inbrake by skole in die Breederiviervallei ontvang nie.

Kapt. Jeff Lakey, bevelvoerder van die polisie in Ashton, bevestig geen klagte van inbrake by skole is by sy stasie aangemeld nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters