7 dae gelede
Unies kan SA regering pak oor Eskom
GEVEG WAG: Clement Herandien, Wes-Kaapse organiseerder van die vakbond Numsa, sê die regering móét voortgaan om Eskom finansieel te support.  ~ Anele Mfazwe

’N REUSE-GEVEG dreig tussen die nasionale regering en vakbonde oor Eskom se finansiële verknorsing.

Jabu Mabuza, die kragverskaffer se waarnemende CEO, het Eskom se geldsake dié week in Joburg bekend gemaak – en dit lyk nie goed nie.

Eskom se algehele skuldlas beloop nou R454,2 miljard in vergelyking met R419,2 miljard verlede jaar.

Clement Herandien, Wes-Kaapse organiseerder van die National Union of Metalworkers of South Africa (Numsa), sê Eskom se finansiële probleme bly ’n groot kopseer.

Herandien sê die SA regering moet meer van sy geld by Eskom belê en ophou om geld op die SAA te mors.

Spandeer

Die nasionale lugdiens het ’n bail­out van R5 miljard van die regering ontvang. Binne ’n maand het dié geld egter weggevlieg.

Die SAA-base soek nou nóg geld van die regering om die company aan die gang te hou.

Herandien meen dis nie nodig om al die geld op die SAA te spandeer nie.

Volgens hom is dit belangriker vir die regering om sy geld in Eskom te belê.

Herandien sê: “Die regering wou Eskom net voor die verkiesings in drie afdelings opgebreek het.

“Die vakbonde het egter geweier om dié voorstel te aanvaar, want dit sou vir seker tot werkverliese gelei het.

Gesprekke

“En die regering het die voorstel teruggetrek, want dit was net voor die verkiesing gewees. Maar noudat die verkiesing verby is, wil hy sy plan implementeer.

“Ek dink daar gaan groot gesprekke plaasvind, want die vakbonde gaan dit nie aanvaar nie.”

Hy meen beurtkrag bly ’n moontlikheid, want Eskom se kapasiteit om krag op te wek, bly onder druk.

“Maar die regering moet meer geld in Eskom belê, want dit is ’n strategiese bate vir die land,” sê hy.

“Die SAA, aan die ander kant, is nie ’n strategiese bate nie, want hy verskaf nie ’n diens aan die armste van die armes nie.”

Mabuza sê Eskom het sy pogings verskerp om onreëlmatige uitgawes te stop.

“Dis bemoedigend om te sien die aantal nuwe aangemelde voorvalle van onreëlmatige uitgawes het na minder as R1 miljard verminder.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters