16 dae gelede
Trane meng met bottelwater
Manna: South African Water Warriors lewer noodlenigingsvoorraad in Springbok af. Die beleërde boere sit op moedverloor se vlakte terwyl die droogte al ses jaar voortduur.Foto: Isaac Cloete  ~ 

NES cowboys nie tjank nie, tjank boere ook nie sommer nie.

Maar dit lyk asof dié spreekwoord lankal nie meer van toepassing is op die Namakwaland- en Boesmanlandstreek se boere nie.

Een van die ergste droogtes nog het nou kritieke afmetings aangeneem en dit vereis dringende en omvattende ingryping van die regering.

Geharde boere sit op moedverloor se vlakte en die trane vloei oor dié ses jaar lange droogte.

Die boeregemeenskappe stort ook trane oor die regering wat sy voete sleep om die R425 miljoen te skenk wat hulle lankal versoek het.

’n Paar weke gelede het die nie-regeringsorganisasie (NGO) South African Water War­riors (SAWW) noodlenigingsvoorraad in Springbok afgelewer.

Dit het ingesluit vragte kruideniersware, water en vars groente.

Die voorraad was vir ontluikende, communal en kommersiële boere.

En toe het die trane weer gevloei, maar dié keer was dit trane van dankbaarheid.

Help

Families van die plaaslike boeregemeenskap het op elke denkbare manier probeer om van die milde skenkings te bekom om daarmee huiswaarts te keer.

Deon Smit, stigter van SAWW, sê hulle het in die sosiale media gesien van die erge droogte en besluit om die Namakwalanders te help.

Danie Jacobs, die voorsitter van Agri Namakwaland, sê die veevoer van sulke skenkings hou omtrent net twee tot drie dae.

Jacobs sê: “Ons is steeds baie dankbaar daarvoor, want dis dae waarvoor die boer niks uit sy sak hoef te haal nie.

“Die regering moes ons al sedert 2014 van droogtehulp voorsien het, maar het ons nog net vier maande se droogtehulp geskenk.”

Jacobs sê die regering se voet­slepery is ’n bedreiging vir voedselsekuriteit.

Ook baie lede van die boeregemeenskap se voorland is Sassa-geld, glo Jacobs.

Vroeër dié jaar het Gift of the Givers tonne nood­lenigingsvoorraad met sowat 20 trokke in Springbok afgelewer.

Pleks van reën het ’n ongekende storm van oranje stof veral die noordwestelike deel van Namakwaland onlangs geteister.

Dit het gelyk soos die oranje sand van die nabygeleë Namib-woestyn in die suide van Namibië.

Sig is so belemmer daardeur dat bestuurders nouliks die pad kon sien.

Riaan Cloete, die provinsiale sekretaris van die ANC se Namakwa-streek, sê sy party is baie bekommerd oor die knellende droogte.

Cloete sê: “Ons is 100% daarvoor dat droogtehulp beskikbaar gestel moet word.

“Dit moet egter regverdig versprei word onder alle tipes boere.”

Hy spesifiseer: “Nie net sekere kleinskaalse of ontluikende boere moet droogtehulp of van die skenkings kry nie.”

Druk word op die regering geplaas om die Noord-Kaap as ’n rampgebied te verklaar.

Adjunk-president

Die boere, die voorsitter van Agri Noord-Kaap, Nicol Jansen, en lede van die swart boerevereniging (Afsa) het Vrydag met politici vergader.

Hulle was onder andere die adjunk-president, David Mabuza, die minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, Thoko Didiza, en die Noord-Kaap se premier, dr. Zamani Saul.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters