11 dae gelede
Tiener is kaatjie van atletiekbaan
groot drome: Hayley Jonkers wil deur haar liefde vir atletiek groot dinge in die lewe vermag. INLAS: Juanita Gawie sê Hayley het talent wat skrik vir niks. Foto’s: ELDRIDGE JASON  ~ 

SY IS op ’n mission om ál haar drome los te hardloop.

Hayley Jonkers (15) laat haar nie deur haar omstandighede onderkry nie.

Dié graad 8-leerder van die Hoërskool Wesbank naby Kuilsrivier het vandeesweek haar WP-kleure in atletiek verwerf.

Hayley verteenwoordig nou haar provinsie in die 1 500 m. En as alles volgens plan verloop, gaan sy later vanjaar aan die SA Kampioenskapstoernooi in Port Elizabeth deelneem.

Volgens Hayley is sy al van kleins af lief vir hardloop.

“Ek onthou dat ek al vanaf my crèche-dae begin hardloop het. Ek is lief vir atletiek en dit is hope pret vir my.

“My groot rolmodel is Caster Semenya en ek wil eendag net soos sy die wêreld se atletiek­bane aan die brand hardloop.”

Die jong atleet se afrigter, Juanita Gawie, is nie bietjie trots op haar atleet se prestasies nie.

“Hayley het ’n uitsonderlike talent – ’n talent wat haar nog ver gaan bring.

“Sy het haar maar vanjaar by die Bottelary Atletiekklub aangesluit en ná net ’n week by dié klub het sy haar WP-kleure gekry.

“Toe ek haar die eerste keer sien hardloop, het sy saam die boys geoefen en bygehou. En toe weet ek: Hierdie meisie gaan die WP-span haal.”

Gawie sê Hayley se pa, Aubrey, was op sy dag net so ’n kranige atleet.

“Wat my baie trots maak, is dat haar pa wil hê haar ster moet helder hier in Wesbank skitter.

“Hy het al baie aanbiedinge van ander skole gekry wat Hayley wou poach, maar hy is vasbeslote om aan ander plekke te wys daar kom ook goeie dinge uit Wesbank,” gesels Gawie.

Staal

Hayley se ma, Stella Meyer, sê dis ’n plesier om te aanskou hoe haar dogter atletiek geniet.

“Sy leef haar uit op die atletiekbaan. Sy geniet dit om teen ander te kompeteer en haar staal te wys.

“Ek en haar pa is nie min trots op haar nie,” voeg Meyer by.

Hayley oefen dikwels vier keer per week en selfs op Sondae om haar voor te berei.

Dié jong atleet het dit nie altyd breed nie en lesers wat haar graag van hulp wil wees, kan Gawie gedurende skoolure kontak by 021 955 2424.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters