Verlede maand
Tent-buurt in suburb
Geen heenkome: Aaron Francisco en sy pregnant girlfriend by hulle tent.  ~ 

DIT lyk soos ’n nuwe campsite wanneer ’n mens in Giel Bassonrylaan naby Voortrekkerweg in Parow afry.

Maar dit is allesbehalwe ...

Die tentjies op die grasvlakkie op die hoek van Giel Bassonrylaan en Chamberlainstraat is vir dié haweloses die “enigste uitweg” teen die elemente van die natuur.

Vroeër was hier meer tente.

Stryery

Aaron Francisco (27) sê hy bly nou ’n maand in sy tentjie saam met sy meisie, wat amper twee maande swanger is.

“Ek het hier naby in ’n gastehuis gewerk en gebly,” vertel Francisco.

“Ek en die eienaar het toe ’n stryery gehad, toe slaan hy my meisie raak. Toe ek hom terugslaan, verloor ek my werk, sonder enige UIF-voordele.

“Ek het ook nie ander blyplek nie. Die tentjie kry ek by my ma en dis ál herberg wat ons tans het.

“Nou pla law enforcement ons ook nog. Ek en my meisie het al elk ’n fine van R500 gekry. Maar daar is nêrens waarheen ons kan gaan nie.

“Ons maak nie moeilikheid hier nie. Hier het mense gebly wat dwelms gesmokkel het, maar hulle is nou in die tronk.”

Dean Jansen (31), oorspronklik van Ravensmead, bly saam met sy meisie en sesjarige seun in ’n netjiese tentjie.

“Ek het jare hier oorkant die hoofpad (Giel Bassonrylaan) gebly, maar het nou tot hier getrek.

“Ons het ’n goeie verstandhouding met die inwoners hier rond, veral dié in Chamberlain­straat.

“Ons is die oë en ore vir hulle en kyk mooi na hulle wonings.

“Ek werk soms in hulle tuine of speel handyman vir ’n inkomste.

“Ons is nie morsig nie. Ons doen ons ding in ’n emmertjie en begrawe dit dan.

“Ek het al ’n string fines van law en­forcement gekry oor mense oorkant die hoofpad oor ons kla, maar ons kan dit nie betaal nie.

“Ek het matriek agter my naam en soek ’n ordentlike job om vir my gesin te sorg.

“My meisie is drie maande swanger. Ons soek enige donasie van babakleertjies.”

Wayne Dyason, die hoofinspekteur van die Stad Kaapstad se law enforcement, sê inwoners van die area het al talle kere oor die “tent-mense” gekla.

“Die klagtes het gewissel van bylaw-oortredings tot ernstiger bewerings. Ons beamptes is verplig om die klagtes te ondersoek.

“As die wet oortree word, moet aksie geneem word, wat boetes insluit.”

Die mense het Vrydagoggend opgepak nadat law enforcement hulle weer besoek het. Hulle het gesê hulle move net na ’n ander oop stuk grond omdat hulle nêrens anders het om te gaan nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
30 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters