13 dae gelede
Talle wil doodstraf terug hê
am i next
Betogers teen geweld teen vroue.  ~ Peter Abrahams

BRING die doodstraf terug!

Dit is die uitroep van nagenoeg 600 000 Suid-Afrikaners wat genoeg gehad het van die vlaag moorde op en verkragting van vroue.

Die kollig is dié week op femicide geval ná ’n toename in verkragtings en moorde in die land.

Maar geweld teen vroue is ’n ou ding, sê Given Sigauqwe, woordvoerder van die organisasie Sonke Gender Justice.

Die pro-feminisme-organisasie sê verlede jaar is 3 915 vroue en kinders vermoor en in 2017 is sowat 40 000 vroue verkrag.

“Die realiteit is dat die geweld teen vroue lankal reeds aan die gang is.”

Suid-Afrikaners het hierdie week hulle stem teen die euwel van geweld teen vroue en kinders in verskeie protesoptredes dik gemaak.

Die betogings is tot in Amerika en Londen ook gehou.

Behalwe die protesaksies het derduisende mense ook ’n aanlyn petisie by Change.org geteken wat vra dat verkragters en moordenaars die doodstraf moet kry.

Ronald Lamola, minister van justisie, is Dinsdag by ’n mediakonferensie in Kaapstad gevra of die kabinet dit sou oorweeg om ’n referendum oor die herinstelling van die doodstraf te bespreek.

Lamola het geantwoord dat so ’n voorstel deeglik bespreek sal word.

Julius Malema, EFF-leier, het Donderdag in Braamfontein op ’n perskonferensie gesê die doodstraf is nie die antwoord nie.

“Ons ondersteun nie die doodstraf nie. Almal wat die doodstraf voorstel, moet wetenskaplike bewyse lewer van waar die doodstraf daarin geslaag het om crime te verminder.”

Afgeskaf

Hy sê die regskoste in Suid-Afrika is baie duur.

“Jy kan verkeerdelik beskuldig word en omdat jy nie behoorlike regsverteenwoordiging kan bekostig nie, kan jy hang,” meen Malema.

Die doodstraf is in 1995 in Suid-Afrika afgeskaf.

Sonke Gender Justice sê ook die doodstraf is nie die wonderkuur nie.

“Ons het opgelet daar is ’n oproep vir die doodstraf en/of die kastrasie van verkragters en moordenaars, maar dié dade gaan juis oor geweld, mag en vernedering.

Daarom is Sonke gekant teen hierdie benaderings, wat ook ’n oorspronk­like probleem van toxic masculinity is.

Hy sê navorsing het gewys dis nie ’n afskrikmiddel in lande wat die doodstraf uitvoer nie.

“Dit is ook duurder as om lewenslange tronkstraf uit te dien. Verder is chemiese kastrasies en die doodstraf self dade van geweld wat die reg op lewe en liggaamlike integriteit skend.”

Sigauqwe sê die probleem lê by die system. “Vroue word helder oordag en gewelddadig doodgemaak. Dit is die regering se verantwoordelikheid om toe te sien dat hulle menseregte nie geskend word nie.”

Intussen het pres. Cyril Ramaphosa Donderdag by die paartie opgedaag nadat hy vir dae lank stil was oor die moorde op vroue en kinders.

“Van nou af sal die oortreders van geweld teen vroue en kinders nie meer borgtog kry nie,” het hy gesê.

In dieselfde asem het hy ook genoem dat sy nuwe aankondiging eers bespreek moet word. 

Lewer kommentaar op hierdie artikel
1 reaksie
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters