19 dae gelede
Talle moer nou skurke
Vermeende skurk: So lyk die verdagte nadat inwoners hom behoorlik opgefoeter het.FOTOVerskaf  ~ 

’N MISDAADPLAAG het Strandfontein langs die Valsbaaise kus en reg langs Mitchells Plain soos ’n stormsterk suidoostewind getref.

Volgens inwoners kom die skurke van buite hulle gebied en tref rooftog en inbrake hulle die swaarste.

Die inwoners is nou so gatvol dat hulle die reg in eie hande begin neem.

’n Vermeende gangster van Tafelsig, Mitchells Plain, is dié week hospitaal toe geslaan nadat hy na bewering ’n man voor sy huis in Bayview, Strandfontein, beroof het.

Die man vertel: “Ek het van die werk huis toe gekom. Toe ek uit my bakkie klim, sak drie mans op my af en dreig my met ’n gun.

“Hulle het my van kontant en my selfoon beroof en weggehardloop. Gelukkig was die buurtwag­lede op patrollie en hulle jaag toe die mans.”

Nog ’n inwoner wat ook anoniem wou bly, sê: “Hulle het oor ’n hoë muur gespring, maar ’n Rottweiler het hulle begin stukkend byt.

“Die drie het toe teruggespring, maar dit was from the frying pan into the fire, want die buurtwaglede wag hulle toe in en begin hulle slaan.

“Twee van hulle het weggekom, maar die ander een was nie so gelukkig nie.

“Hy het hard geskreeu, en ander inwoners wat in hulle huise was, het dit gehoor. Hulle het uitgekom en hom behoorlik opgefoeter.

“Sy bloed het die pad vol gelê. Ek moes dit skoonmaak.”

’n Buurtwaglid sê meer as 100 inwoners het die man geslaan.

“Ander buurtwaglede het ook in voertuie opgedaag.

“Die polisie het ook daar aangekom, maar selfs die cops kon die woedende mense aanvanklik nie stop nie.

“Die polisie het toe later ingegryp, anders was die gangster amper dood. Hulle het hom hospitaal toe geneem.”

Sandy Shutter, die voorsitter van Strandfontein se gemeenskapspolisiëringsforum, sê die inwoners is keelvol.

“Die polisie sê die mense mag nie die wet in eie hande neem nie, maar almal is siek en sat om slagoffers te wees.

“Eintlik moet ons die inwoners bedank.

“Hulle het nou opgestaan teen die gangsters.”

Brian Adams, ’n visserman in die gebied, sê die meeste van die gangsters kom van Mitchells Plain.

Hy sê hulle beroof die inwoners van Strandfontein wat gaan werk of van die werk terugkom.

“Hulle ry deur die strate in ’n wit Polo en laai gangsters in verlate strate af.

“Hulle kry bevele van die gang-base.

“Ons vissermanne is ook nie meer veilig nie.”

Kapt. FC van Wyk, ’n polisiewoordvoerder, het bevestig inwoners van Strandfontein het ’n gewapende rower gevang nadat hy inwoners beroof het.

“Hulle het hom geslaan en ernstig beseer. Die verdagte moes hospitaalbehandeling kry.

“Die polisie ondersoek die voorval,” het Van Wyk bygevoeg.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters