Verlede maand
Sy’s ‘weggejaag soos ’n hond’
ontevrede: Claudine Fredericks sê haar ma se goeie werke word ongedaan gemaak. Fotoverskaf  ~ 

VREDENBURG. – ’n Hele 40 jaar was sy die nurse wat al wat kind in die Louwville-woonbuurt is, die lewe help inbring het.

Toe word sy glo soos ’n hond weggejaag by die kliniek waar sy dekades lank pasiënte met die grootste liefde en sorg behandel het.

Dit gons hier oor die geliefde suster Sara Thomas, wat onder groot omstredenheid uit haar pos ontslaan is. Thomas is glo onlangs met force deur ’n sekerheidswag van die Louwville-kliniek se perseel af verjaag.

“Sy’s aan die skouers gegryp en uitgesmyt,” vertel Claudine Fredericks, haar dogter, ontevrede.

“Dít was nou die behandeling wat my ma gekry het vir al die jare wat sy aan die pasiënte opgeoffer het.

“Glo omdat sy medikasie aan ’n pasiënt gegee het sonder ’n voorskrif. Maar daar is geen bewyse hiervan nie.”

Thomas wou nie in hierdie stadium enige iets oor die gebeure sê nie. Son op Sondag verstaan sy is tans in die proses om appèl aan te teken teen haar afdanking.

“My ma is seergemaak, want sy verdien nie hierdie behandeling nie,” sê Claudine woedend.

“Sy wil nie nou iets sê wat haar saak kan belemmer nie, maar ék glo dat daar gekonkel is om bewyse teen haar te fabriseer en dat haar pos reeds aan iemand anders belowe is.

Ongelukkig

“Watter ander verduideliking kan daar wees as my ma se pos klaar geadverteer word?”

’n Inwoner, antie Bettie van Wyk, het geen doekies omgedraai toe sy oor Thomas se afdanking uitgevra is nie.

“Ek is bitter ongelukkig, want suster Thomas is ’n mens-mens.

“Om die waarheid te sê, ek is bef*k hieroor. Sorry vir die gevloek, maar gesondheidsdienste sonder suster Thomas is eenvoudig nie dieselfde nie.”

Nog ’n inwoner, Essie Fortuin, deel dié sentiment.

“Suster Thomas het gehelp om my die lewe in te bring. Vir my en omtrent almal van my ouderdom hier in Louwville.

“Wat hulle aan haar doen, is nie mooi nie. Ons soek haar terug, anders gaan ons ’n massaprotesoptog hou.”

’n Gesondheidswoordvoerder, Sandra Maritz, sê hulle kan nie nou kommentaar lewer nie omdat die dissiplinêre proses nog nie afgehandel is nie.

Maritz het ook nie antwoorde gehad oor hoekom Thomas se pos reeds geadverteer word al is die dissiplinêre proses nog aan die gang nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
15 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters