15 dae gelede
Sy wag dekades vir huis
verlange: Jacoba Fieties wil met ’n seer hart hê dié huis moet hare wees as ’n Krismisgeskenk. Foto’s: eldridge jason  ~ 
’n leeftyd: Fieties is sedert 1997 op die behuisingswaglys en sê mense wat lank ná haar op die lys is, word vinniger gehelp.

WORCESTER. – “Ek is moeg van elke jaar hok in en hok uit.

“My jongste kind is al 15 jaar oud en ál wat sy haar hele lewe lank het, is ’n hok.”

Jacoba Fieties van die Tuindorp-woonbuurt sê haar bors raak behoorlik warm as sy dink aan haar alewige stryd om ’n ordentlike dak oor haar kop te kry.

“Ek weet nie meer wat om te doen nie. Dis nie lekker om daaraan te dink dat vanjaar my 22ste Kersfees in ’n hok gaan wees nie.

“Almal by ons plaaslike behuisingskantoor ken my al vetterig. Hulle groet en waai my al as hulle my in die straat sien.

dis unfair: Jacoba Roberts sê hulle munisipaliteit maak nie mooi met haar dogter nie.

“Maar as ek weer sien, kry mense wat nie eens so lank soos ek op die behuisingswaglys is nie, ’n huis.

“Dis mos nie fair nie.”

Fieties en haar 22-jarige seun en 15-jarige dogter woon tans in haar ma se jaart in ’n hokkie wat dalk net-net ’n plekkie vir ’n muis ook sal hê.

Só beroerd en beknop is die situasie dat haar dogter, Margo, op die grond moet slaap.

“My seun is ’n tikkop en ek kan mos nie my dogter op dieselfde bed as hy laat slaap nie. Mens hoor dan van al die snaakse goed wat

ingeprop: Die jong Margo moet saans in dié knap spasie tussen die kooi en kas slaap. FOTO verskaf

tikkoppe aanvang.

“Maar wat my kwaad maak, is dat ’n huis laas Sondag nie ver van my ma se huis nie, gebrand het.

“Die eienaar is onmiddellik ander verblyf gegee hoewel die skade nie so erg was nie.

“Ek het aangebied om die skade te herstel, maar die behuisingsbeamptes van die Breedevallei-munisipaliteit praat nou nie ’n woord nie. Ek wil nie snaaks wees nie, maar daar is altyd behuising in Tuindorp beskikbaar vir arm blankes, maar nie vir my nie.

“So, wat moet ek dink? Dat ek nie wit genoeg is nie?”

verlange: Jacoba Fieties wil met ’n seer hart hê dié huis moet hare wees as ’n Krismisgeskenk. Foto’s: eldridge jason

Haar ma, Jacoba Roberts (73), deel dié sentiment.

“Hier is baie ongeregtighede en ek is jammer om so te sê, maar die blankes word hier voorgetrek.

“Hoe lank moet my dogter dan nog wag?”

’n Buurvrou, Gloria Oliphant (58), sê hulle munisipaliteit maak nie mooi met Fieties nie.

“Die huis is nie so gebrand dat dit nie vir Jacoba gegee kan word nie.

“Na ál die dinge wat sy al in die lewe moes deurmaak, sou ’n ordentlike dak oor haar kop mos die regte Krismisgeskenk wees.”

Die Breedevallei-munisipaliteit is om kommentaar genader.

Sy woordvoerder, Johan Botha, het gesê hy wag eers op terugvoering van sy behuisingsamptenare voordat hy kommentaar kan lewer.

Teen druktyd het Botha nie weer van hom laat hoor nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters