3 maande gelede
Swanger ma afgemaai in Manenberg
 ~ 

’N HOOGSWANGER ma van twee het in ’n koeëlreën gesterf toe sy op pad was om krag te gaan koop en in gangster-kruisvuur beland het.

Die tragiese voorval het Donderdag omstreeks 21:30 in Tambo Village in Manenberg plaasgevind.

Die 26-jarige slagoffer het saam met ’n vriend winkel toe gestap om elektrisiteit te gaan koop toe sy raakgeskiet is.

Lede van die Wes-Kaapse teenbende-eenheid het haar dood op die toneel aangetref.

Kapt. FC van Wyk, polisiewoordvoerder, sê die vrou was ten tyde van haar dood agt maande swanger.

“Sy was ook die ma van twee minderjarige kinders.

“Die vriendin wat saam met haar was, is in die skietery in die linkerbobeen getref,” het Van Wyk gesê.

Gearresteer

Hy sê die polisie het ná die voorval inligting ontvang van ’n vuurwapen wat in Lillian Ngoyi-straat in Tambo Village weggesteek word.

“Hierdie informasie is opgevolg en een man en twee vroue is gearresteer vir die besit van ’n onwettige vuurwapen. Daar is op die vuurwapen beslag gelê,” het Van Wyk gesê.

Die betrokke vuurwapen sal nou vir ballistiese toetse gestuur word om te bepaal of dit gebruik is in die skietvoorval waarin die swanger ma gesterf het.

Die polisie het ook wenke ontvang oor die moontlike killers en het vier jong mans gearresteer.

Verdere inligting dui daarop dat hierdie mans lede van ’n plaaslike gang is, aldus Van Wyk.

Soldate van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag is onlangs ontplooi in areas wat probleme het met bendes (plekke soos Manenberg en elders op die Kaapse Vlakte).

Dít is om te help om gemeenskappe weer bendevry te kry. News24

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters