16 dae gelede
Streek is op die randjie van dorsland
leeg: Die vlak van die Jan le Grange Dam buite Ladismith is lelik laag.Foto: Keith Meyer  ~ 

DAMVLAKKE in die Suid-Kaap bly kritiek laag.

Ondanks die reën verlede naweek staar ’n erge droogte die inwoners van verskeie dorpe dié somer in die gesig – veral as waterbesparing nie dringend toegepas word nie.

Ntobeko Mangqwengqwe, ’n woordvoerder van die Oudtshoorn Munisipaliteit, sê dit is nou al twee jaar dat die groter Oudtshoorn-gebied ’n rampgebied is.

Mangqwengqwe sê: “Die 24 mm-reënval verlede naweek het nie ’n noemenswaardige verskil gemaak aan die Koos Raubenheimer Dam nie, en dis die vernaamste bron.

“Die huidige damvlakke is 37,84%, wat ’n baie geringe toename is op die 37,14% van die vorige week.”

Dié is die vyfde agtereenvolgende jaar dat die dorp gebuk gaan onder droogte. Daar is waterbeperkings ingestel. Die dorp se gemiddelde weeklikse watergebruik is 10 MF.

Huishoudings mag net 12 kF per maand gebruik.

Voerbale

’n Water-disaster staar kleinboere in die gesig.

Een van hulle, Jan Saayman, kla: “Ons weet nie hoe ons ons diere gaan voer nie. As ons nie droogtehulp soos voerbale kry nie, sal ons van ons diere moet verkoop of slag.”

Vir Kannaland het die raad gewysigde waterbeperkings in ’n omsendskrywe gestipuleer.

Ingevolge daarvan word huishoudings se watergebruik beperk tot 50F per persoon per dag.

As inwoners die beperking van 12 kF per maand oorskry, kan hulle met R1 000 beboet word.

Skole word ook gevra om minstens 30% tot 40% van hulle gemiddelde waterverbruik te sny.

Geen munisipale water mag gebruik word vir enige iets anders as drinkwater nie.

Selfs Mosselbaai gaan van 1 November streng waterbeperkings instel. Die Wolwedans Dam is 55,62% vol, maar dit sak teen 1% per week.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters