7 dae gelede
Stad ‘melk ons soos kragkoeie’
in visier: Die burgerregteorganisasie Stop CoCT sê Dan Plato en sy stadsraad is besig om inwoners soos krag-koeie te melk. Foto:MELINDA STUURMAN  ~ 

DIE Stad Kaapstad wil inwoners ’n kop aansit wat hulle kragverbruik betref.

Só glo die beswaarde lobby-groep Stop CoCT.

Sandra Dickson van Stop CoCT sê Kaapstad se burgemeester, Dan Plato, se onlangse raadstoespraak waarin hy gesê het die Stad se home-user charge (HUC) is net van toepassing op huise wat R1 miljoen en meer werd is, is ver van die waarheid af.

Dickson verduidelik: “Die HUC van R163,50 word deur alle huishoudings betaal waar die huiswaarde R400 000 en meer is.

“Toe Plato hierop gewys word, was sy antwoord dat inwoners dan meterkragboksies moet laat installeer en dan is hierdie heffing nie meer op hulle van toepassing nie.

“Maar wanneer mense se huiswaarde die R1 miljoen kerf bereik, sal hulle hierdie heffing moet betaal. Hierdie klink vir my na afpersing om mense te forseer om meterkragboksies in hulle huise te installeer.”

Dickson sê dit is veral ook elektrisiteitsverbruikers wat voorheen in die Stad se Lifeline-kategorie geval het, wat nou deur die City geraps word.

“Hierdie verbruikers se tariewe is verhoog vanaf R1,10 per krageenheid tot R1,99. Dis is ’n prystoename van 80%.

“Hulle kry ook nie meer hulle gratis eenhede elektrisiteit nie.

“Die Stad Kaapstad is besig om die maksimum uit die publiek te extort met dié tariefverhogings.

“Hulle (die Stad Kaapstad) het touch verloor met die werkende publiek daar buite.”

Dickson sê volgens hulle be­rekenings moet die gemiddelde middelklashuishouding nou maandeliks R2 500 opdok vir die dienste wat die Stad aan hulle lewer. Hierdie dienste sluit elektrisiteit, rates, riool-, water- en afvaldienste in.

“Hierdie dinge moet stopgesit word. Die munisipaliteit is besig om ons uit te buit,” waarsku Dickson.

Plato se woordvoerder, Greg Wagner, sê die Stad Kaapstad is in die proses om prepaid meters in geteikende areas te installeer. Volgens hom word die installering gratis gedoen.

“Huishoudings wat geregistreer is as deernisgevalle en inwoners wat kwalifiseer vir ’n pensioenafslag, kan vir die hoogs gesubsidieerde Lifeline-tarief aansoek doen,” sê Wagner.

Volgens hom is die laaste evaluering van eiendom in 2018 gedoen.

Hy sê tariewe word aangepas volgens die aangepaste evaluasies wat vanaf 1 Julie vanjaar in werking getree het.

Wagner voeg by die Stad moet vanjaar ook 15,6% meer vir bulk elektrisiteit aan die sukkelende Eskom betaal.

“Ons het die oorgrote meerderheid hiervan egter self geabsorbeer deur ons tariewe aan verbruikers met slegs 8,8% te verhoog,” verduidelik Wagner ten slotte. 

in visier: Die burgerregteorganisasie Stop CoCT sê Dan Plato en sy stadsraad is besig om inwoners soos krag-koeie te melk. Foto:MELINDA STUURMAN
NIE FAIR: Sandra Dickson van Stop CoCT is klad nie impressed met die Stad Kaapstad nie.Foto verskaf
krag-manna: Stop CoCT is van mening die Stad Kaapstad wil die maksimum coin uit verbruikers van prepaid elektrisiteit. Foto: eldridge jason
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters