15 dae gelede
So ’n Fonkie Donkie!
kappit yt: Ameen Levy love die “bruinman-funk”.Foto: Salmon Smith  ~ 

DIS ’n unieke musiekgenre wat destyds om die ghellieblik gebore is.

Op vislyn-blikkitare het die uncles met hulle kannetjies wyn gesit en dié musiek gemaak.

Só vertel die bekende Paarlse sanger Ameen Levy (63), beter bekend as Rappin’ Donkey, oor die “bruinman-funk”.

Funkmusiek het in die 1960’s onder die Afro-American kultuur in Amerika ontstaan.

Die bekendste groepe was ouens soos Positive Force, Skyy en Kool & The Gang. Maar hier in Suid-Afrika het die ’n ander tipe funk geword – gemeng met ghoema.

“Kyk, ons bruin artists het nie regtigwaar ons eie genre gehad nie, totdat manne soos Rico White en Al Etto begin het met die Groove Station-konsep,” gaan Ameen voort.

Hy sê in daai stadium was dit net iets uit die bruin gemeenskap. Die musiekstyl het nie eens ’n naam gehad nie.

“Maar eintlik was dit ons eie bruinman-funk. Ek het ook later op die toneel gekom en dié ouens het my aangesteek met hierdie genre.”

Ameen was dadelik aan boord. Hy het dit gelaaiks en gevoel hulle moet die styl groot uitbou.

Maar steeds het hulle tunes ’n naam makeer.

“Tot Al Etto eenkeer in die early nineties na een van my CD launches toe gekom het.

“Hy sê toe dié tipe musiek­ is ons bruin mense se eie funk. Dis toe ook waar die naam gebore is.”

Ameen kry ’n hartseertrek in die oë wanneer hy noem die groot radiostasies in die Kaap wil nie dié tipe musiek speel nie.

“Maar dis óns mense wat daardie radiostasies ondersteun.

“Dit het veroorsaak dat ons vir ons fan base gaan sê: ‘Sit maar julle radio af, want daai is nie vir ons nie.’

“Daar was destyds ’n wit vrou van ’n bekende record company wat na my eerste album, Ons Slaap Vanaand By Heidi, geluister het. Sy sê toe agterna in my gesig dis die grootste klomp gemors.

“Sy het eintlik die bruinman-funk afgekraak! Maar net drie maande daarna was Ons Slaap Vanaand By Heidi ’n landwye sukses.

“My musiek is selfs gewild oorsee. Dit word versprei deur Suid-Afrikaners wat daar bly.”

Ameen voel die bruinman-funk moet oor die hele land geken word.

Hy voeg gou by ondanks die naam is dié genre vir alle rasse – solank die musiek ook so klink.

“Van ons jong bruin artists is bang vir Afrikaans en vir die funk.

“Ek wil hê hulle moet op die skip klim. Hulle moet dit begin uitleef en doen soos ons ou manne, soos Groove Station en Funny Carp dit oor die jare gedoen het.”

Dis hoekom Ameen en die bekende Rockets-ster Jerry Watt nou werk aan ’n CD getiteld Bruinman-funk.

Hulle beplan om dit teen einde November bekend te stel.

Jerry noem: “Die bruinman-funk gaan ’n massiewe brand word, want dis original en die mense laaik dit.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters