26 dae gelede
Smouse is versteekte ganja kwyt
IRIE WIELE: ’n Groot vrag dagga is in ’n operasie in dié binneband gevind. Dis een van talle vindingryke smokkel-idees wat merts deesdae probeer. FOTO VERSKAF  ~ 

DAGGASMOUSE het nou al alles probeer om hulle aaptwak te vervoer.

Dit wissel van versteekte motor­panele, groot poppe, plastieksakke, kussingslope tot waspoeierdosies.

Onlangs het ’n slinkse mert egter probeer om die aaptwak binne-in twee motorbande te versteek en so te vervoer.

Kapt. Sergio Kock, polisiewoordvoerder, sê die polisie het hierdie week ’n Iveco-bussie van ’n koerierdiens by die Nakop-grenspos naby die Oranjerivier deursoek.

Twee buitebande het vir die op en wakker bloues baie verdag gelyk.

Ná ’n deeglike inspeksie het hulle afgekom op 51 pakke dagga, wat toegedraai was in bruin kleefband.

Die straatwaarde word bereken op amper R19 000.

Drie verdagtes is op die plek gearresteer en sal binnekort in die hof verskyn.

Uniform

Brig. Monica Sebili, provinsiale hoof van die operasionele reaksiediens, het die lede van die diens intussen geloof vir hulle oplettendheid.

In ’n ander voorval het Kimberley se blitspatrollie dagga ter waarde van sowat R65 000 gekonfiskeer.

Hulle het ook op ’n uniform van die SA Nasionale Weermag afgekom wat vermoedelik gebruik is om die dagga veilig na Kimberley te vervoer.

Danksy inligting van die publiek het die blitspatrollie ’n klopjag uitgevoer op die Dingaan Hostel in Gale­shewe.

Een van die wonings in die hostel is vermoedelik as ’n stoorplek vir die dwelms gebruik.

Nadelig

Geen arrestasies is al in verband met hierdie vonds gemaak nie.

Brig. Tlhokomelang Diakanyo, bevelvoerder van die Galeshewe-polisiestasie, het die blitspatrollie geloof vir hulle goeie werk.

Volgens hom is dagga baie nadelig, veral vir die jeug, omdat dit tot meer misdaad in die Noord-Kaap lei.

Intussen het die cops van Rosedale in Upington twee vroue en ’n man in Operasie Kutululuka vasgetrek.

Hulle het 28 kg dagga ter waarde van R140 000 op die N14 tussen Upington en Keimoes vervoer, aldus kapt. Kock.

Die twee vroue behoort binnekort hof te loop.

“Die ondersoeke duur voort en daarom kan ons nie in dié stadium veel meer daaroor sê nie,” het Kock bygevoeg.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters