13 dae gelede
Smile sit weer Chrissie se glimlag terug op sy gesig

CHRISSIE Maredi, een van die 10 gelukkige kindertjies wat vandeesweek lewensveranderende rekonstruktiewe chirurgie in die Rooi Kruis Kinderhospitaal ondergaan het, se chirurgie was suksesvol.

Die chirurgie is deur die nie-regeringsorganisasie die Smile­ Foundation gelei.

Elke jaar help dié organisasie kinders met gesig- of ander defek om rekonstruktiewe chirurgie­ in Suid-Afrika te ontvang.

Chrissie is Woensdag saam met ander kinders vir chirurgie geskeduleer.

Die klonkie het 2 jaar gelede brandwonde aan 44% van sy lyfie opgedoen toe sy nefie petrol op ’n vuur gegooi het.

Nog ’n kind wat ook chirurgie ondergaan het, is ’n 10 maande oue babatjie wat weefseluitbreiding in die been en kopvel, hersiening van die lippe, sowel as vel- en vetoorplantings ontvang het.

Verbeter

Dwayne Evans, ’n woordvoerder van Rooi Kruis Kinderhospitaal, sê die chirurgie het goed afgeloop.

“Dokters het Chrissie se kontraksies in sy nek en pols losgekry.

“Mettertyd sal sy mobiliteit baie verbeter.”

Dr. Saleigh Adams van Smile sê dit is hoekom hy altyd oop is vir verandering en verbetering.

“In sy 19 jaar van operasies het Smile gehelp om die lewens van meer as 3 500 kinders te verander.

“Ons moet altyd bereid wees om te help. Ons moet die rigting van dinge verander. Ons moet hospitaalkapasiteit verhoog sodat ons meer kinders kan help.”

Adams sê die doel van Smile is om glimlagte op die kleintjies se gesigte te sit.

“Ons organisasie het lewe gekry toe ’n kind ’n brief aan oudpresident Nelson Mandela geskryf het omdat sy nie reg kon smile nie.

“Deur dié kind kan meer kinders met smiles rondloop.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters