6 dae gelede
Skrywer vir Oom Sonnie sterf op 80
Storie-mens: Antie Aletta Erasmus se stories leef voort in haar familie se geheue.FOTO VERSKAF  ~ 

DIE ink van haar skryfpen mag dalk opgedroog het, maar haar verhale leef voort in die memories van haar geliefdes.

Antie Aletta Erasmus (80) is vier maande ná haar verjaardag dood. Sy is gister begrawe.

Antie Aletta was oor die jare ’n ywerige bydraer tot Son se Oom Sonnie se Stukke-rubriek.

Verhale van haar soos My Naam is Poppie, Die Kleremaakster en Die Onnie en die Tokkelos het groot aanklank by Oom Sonnie-aanhangers gevind.

Sy was ’n boorling van Wolseley en het haar laaste jare in Kraaifontein gewoon.

Haar kleindogter Charnita Franz sê haar ouma het op Vadersdag haar laaste asem uitgeblaas.

Kersfeestye

“My ouma het gesukkel met hartprobleme, maar sy was maar altyd ’n storie-mens.

“Nog voor haar dood het sy vir my ’n storie geskryf. En ek onthou dat sy ons altyd as kinders sit gemaak het om vir ons stories te vertel.”

Franz sê Kersfeestye was vir hulle ’n spesiale tyd saam met hul ouma.

“Sy het dan ’n storie gelees wat sy oor ons familie geskryf het. Sy het skuilname gebruik, maar ons het almal geweet van wie sy praat.”

Volgens Franz was haar ouma ’n oud-verpleegster en oud-onnie wat lief was vir konsertstukke skryf. Een van haar verhale is selfs destyds in die Kunstekaap opgevoer.

“Musiek en stories skryf was haar lewe en ons gaan haar verskriklik mis,” het Franz gesê.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters