14 dae gelede
Skool óp van 48 tot 79,1%!

DIE hardste werk word die meeste vergoed.

Dit was die boodskap van aanmoediging aan matrikulante by die Hoërskool Masibambisane in Delft-Suid.

Dié is die mees verbeterde skool in die Wes-Kaap wat die matriekuitslae vir 2018 betref.

Die skool het van ’n 48%-slaag­syfer in 2017 tot 79,1% verbeter.

Uit die 167 matrikulante het 125 leerders geslaag.

’n Jubelende skoolhoof, Khayalethu Boesman, sê dit het baie gekos.

Boesman sê: “Ons het verseker dat die skool se hulpbronne beskikbaar bly, want sommige van ons leerders bly in klein huise en naby shebeens.

“Dis omstandighede wat dit baie moeilik maak om by die huis te studeer. Daarom het ons die skool ná normale skoolure beskikbaar gehou sodat hulle in ’n bevorderlike omgewing kan leer.”

Hy sê die skool het ook kampe gehou waar die leerders aangemoedig is om groot te droom en te teiken om hul doelwitte te bereik.

Volgens Boesman het hy ná skoolure by die skool gebly om te verseker dat die matrikulante die nodige hulpbronne kry.

“Ná ure, somtyds 20:00 in die aand, het ek my private kar gebruik om sommige van hulle huis toe te vat. Iets wat ’n baie groot risiko is, veral in die Delft-area, want jy kan enige tyd geskaak word,” voeg hy by.

“Maar dit was die moeite werd, want ons pluk nou die vrugte.”

Asiphe Ntwanambi (18) van die Tsunami-plakkerskamp in Delft-Suid sê die akademiese jaar was vir haar moeilik.

Sy sê sy woon saam met haar vier broers en susters en haar ouer suster sorg vir hulle, want haar ma woon in die Oos-Kaap.

Ntwanambi sê: “Die huis is baie klein en daar is altyd lawaai van die tavern daar naby.

“Dus het ek altyd by die skool oorgebly om ná skoolure te studeer.”

Met haar uitslag kwalifiseer sy om vir ’n nasionale diploma te studeer.

Nóg ’n uitblinker is Luxolo Nama (18), wat twee distinctions gekry het.

Hy sê hy wil law by die Universiteit van Wes-Kaapland studeer sodat hy kan help om korrupsie in die land te bekamp.

Die Wes-Kaapse minister van onderwys, Debbie Schäfer, het die matrikulante gelukgewens.

Schäfer sê dié skool se geval is baie positief omdat leerders wat in die laer grade gesukkel het, nie uitgesmyt is nie.

Hulle is egter deur die grade gehelp totdat hulle in gr. 12 gekom het.

Volgens die minister is die slaagsyfer­ wat die skool behaal het baie groot as ’n mens dié faktor in ag neem.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters