13 dae gelede
Skollie ‘spin storie’
SKIET VUURWAPEN LEEG: Die getuie beweer Ismail Ockerts het Levert “Sharky” Seekoei vol lood gepomp. Foto ter illustrasie: GALLO IMAGES/ISTOCK  ~ 

AS DIE staatsgetuie se weergawe van Levert “Sharky” Seekoei se skietdood waar was, sou die koeëls Ismail Ockerts deur die uitgangswonde getref het.

Dít is wat Horatio “Voudie” Solomon se regsverteenwoordiger onder kruisondervraging aan die staatsgetuie voorgehou het. Die law­yer wil nie in die media geïdentifiseer word nie.

Die Kaapse hooggeregshof het gehoor die staats­getuie se weergawe is ’n onwaarskyn­like storie wat klink asof hy dit opgemaak het.

Die staatsgetuie is ’n voormalige Terrible Jos­ters gangster en lid van die 28’s-tronkbende. Hy getuig in die gangster-hofsaak van die Terrible Josters teen 12 van sy voormalige vermeende gangster-broers.

Hulle staan op 71 klagte tereg, insluitend moord, poging tot moord en dwelmsmokkelary.

Solomon is na bewering die leier van die Terrible Josters in die Delft-area. Ockerts, ’n beskuldigde in die saak, het na bewering onder sy beheer geval.

Die getuie en Ockerts het na bewering ’n hit op Sharky uitgevoer nadat Ginger, nog ’n voormalige leier van die bende, uitgehaal is.

Die opdrag het na bewering van Solomon gekom dat een van die Terrible Jos­ters-bendelede Ginger “se bloed moet optel”.

Ockerts en die getuie het toe na bewering dié hit op Sharky gaan uitvoer.

Die getuie het verlede week getuig hy het Sharky, ’n vermeende lid van die Junior Mafia-bende een keer geskiet, maar Ockerts het hom vol lood gepomp.

Die voorval het op 13 September 2012 in of naby Anreithlaan in Belhar se Uitbreiding 13 plaasgevind.

Onder kruisondervraging het die getuie sy weergawe van die skietvoorval aan die hof verduidelik en getuig hy het net een skoot in Sharky se bors afgevuur.

Hy het bygevoeg Ockerts het sy vuurwapen in die slagoffer se nek leeg geskiet.

Geval

Maar die regsverteenwoordiger het die lykskouer se verslag aan hom gewys waarin Sharky meer as een skietwond aan sy bors gehad het, asook talle skietwonde in sy nek, naby sy oor en in sy hand.

Die getuie het in die hof volgehou Sharky is een keer in die bors geskiet en hy het toe agteroor geval.

Ockerts het hom toe na bewering om die nek opgetel, sy vuurwapen teen sy nek gedruk en die magasyn leeggemaak.

Hy het verder getuig hy het nie geweet hoeveel bullets in die gun was toe hy Sharky gaan skiet het nie.

“Ek weet nie; ek kan nie sê of dit een was nie,” het hy gesê.

Die getuie het ook bevestig hy’t nie geweet of die vuurwapen wat hy gebruik het, sou werk nie.

Die saak word Dinsdag hervat.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters