11 dae gelede
Skok oor ma se moord
VERMOOR: Vanessa Barends het ’n wrede en pynlike dood gesterf. Sy was nie ver van haar huis af nie.FOTO VERSKAF  ~ 

PRIESKA. – Dis die grootste seer waaroor hulle nie eintlik wil praat nie.

So sê Booi Barends, oom van die 33-jarige Vanessa Barends, wat verlede naweek vermoor is.

Vanessa se moord het die inwoners diep geskok.

Sy is gister hier begrawe.

Haar vermeende killers van onderskeidelik 15 en 24 jaar oud het Vanessa oorrompel en aangeval terwyl sy op pad huis toe was.

Volgens Booi is sy verer as 100 m oor omheiningsdraad die bosse ingesleep, om die beurt verkrag en toe vermoor.

Sy is maar 300 m van haar huis gevind. Sy het later in die hospitaal aan haar beserings beswyk.

Vanessa se kop was glo so opgeswel dat haar familie haar kwalik kon herken.

“Maar niemand het haar geskree om hulp gehoor nie,” het Booi hartseer gesê.

“Dit maak seer om oor hierdie gebeure te praat.

Rondloop

“Hierdie is ’n klein plekkie en almal ken mekaar. Dis hartseer dat so iets hier moes gebeur.”

Volgens hom was Vanessa, ’n ma van twee, ’n sprankelende mens.

“Sy was iemand wat gehou het van rondloop en het met almal oor die weg gekom.

“Drugs is ’n groot probleem hier onder ons jong mense.

“Ná afloop van Vanessa se begrafnis wil ons ’n optog hou, want iets moet gedoen word om die veiligheid van veral vroue en kinders te verseker.”

Volgens Booi is die plaaslike polisie onderbeman. Hulle beskik nie oor genoeg hulpbronne om aandag te gee aan die dwelmprobleem onder jeugdiges nie.

“Ons gemeenskap moet saamstaan om seker te maak dat nie nóg jong mense hulle lewe verloor weens hierdie dwelmgebruikers nie.

“Ons moet dwelms in ons gemeenskap uitroei,” het hy gesê.

Die twee verdagtes moet op 7 Augustus weer in die plaaslike hof verskyn.

Die inwoners gaan na verwagting borgtog teenstaan.

Kapt. Olebogeng Tawana, ’n polisiewoordvoerder, het vanuit Kimberley gesê die wapen wat in die aanval op Vanessa gebruik is, is nog nie geïdentifiseer nie.

Tawana wou niks uitlap daaroor of die verdagtes bekentenisse afgelê het nie.

“Daai is ’n kwessie vir die Nasionale Vervolgingsgesag en die ondersoekbeampte,” het hy verduidelik.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
1 reaksie
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters