29 dae gelede
‘Skandekind' word sukses
bereik hoogtes:Lesley Morris sê hy’t hom nie deur swaarkry en uitdagings in die lewe laat onderkry nie.foto verskaf  ~ 

DIE destydse “armgat, kaalvoet- en pa-lose klong” is nou ’n advokaat wat sy lewensverhaal neergepen het.

Leslie Morris (45), ’n advokaat wat vir die Wes-Kaapse regering werk, ken maar alte goed van swaarkry.

Morris ken egter ook van opstaan en veg om sy drome ’n werklikheid te maak.

Sy lewensverhaal, “Uit die Pen van die Advokaat”, het onlangs by Mar-Leo Publiseerders verskyn.

Dit vertel van hoe hy sonder ’n pa grootgeword en in 1991 in sy skooljare gaan swoeg en sweet het op ’n plaas in die Vredendal-omgewing om die nodige R56 te kry om sy matriekeksamen te kan skryf.

Die vertelling neem die leser deur jare toe Morris “los klos” was en omtrent net vir drank en vroumense geleef het.

Die leser leer hoe hy jonk-jonk sy meisie swanger gemaak en toe getrou het.

Dit was omdat hy nie sy kind dieselfde lewe wou laat lei as wat hy as pa-lose “hoerkind” gelei het nie, sê Morris.

Hy is ook nie skaam om te vertel hoe hy die spoor erg byster geraak het weens drankmisbruik nie.

Volgens Morris het hy sy boek om ’n eenvoudige rede geskryf: Hy wil aan sy mense – veral in die plattelandse gebiede – wys en hulle oortuig dit maak nie saak waarvandaan jy kom nie.

“Dit is moontlik om jou drome te bewaarheid.

“Hoeveel kere is ek nie al beledig, verneder of net nooit ’n regverdige kans gegun nie!

“Ek is gebore met ’n klad op my naam nog voordat ek die lig gesien het. ’n Skandekind, ‘hoertjind’, gebore uit ’n verhouding of ervaring waarvan nét my oorlede moeder weet.”

Morris sê hy wil met hierdie boek mense probeer oortuig dat elkeen van ons die vermoë het om ’n verskil in die lewe van ander te maak.

Bekommer

“Mense sal van jou praat solank as wat jy lewe – selfs tot ná jou dood en daar is niks wat jy daaraan kan doen nie.

“Die ongelukkigste mense is diegene wat hulle bekommer oor wat ander mense van hom of haar dink.

“Ek het hierdie boek neergepen, want ek wil hê mense moet leer uit my lewensvertellinge en foute,” sluit Morris af.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
1 reaksie
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters