26 dae gelede
Shack-bouer bring hoop
Samaritaan: Die trane van vreugde van die mense wie se lewe Quinton Adams verryk, maak alles vir hom die moeite werd.Foto verskaf  ~ 

QUINTON Adams is vinnig besig om ’n vertroude naam te word met die uitstekende werk wat hy as “The Shackbuilder” in talle gemeenskappe verrig.

Son op Sondag se Eldridge Jason het dié onderhoud met hom gevoer.

Eldridge Jason (EJ): Vertel ons ’n bietjie meer van jouself. Waar het jy opgegroei, jou onderrig ontvang en hoe was jou kinderlewe?

Quinton Adams (QA): Ek is in Heidelberg gebore en het my primêre skoolloopbaan by De Waalville Primêr in Heidelberg voltooi.

Daarna het ek Kaap toe gekom om my hoërskoolloopbaan by Spes Bona in Athlone te voltooi. Daarna is ek UWK toe om sielkunde te gaan studeer en het later my meestersgraad in opvoedkundige sielkunde by Stellenbosch voltooi.

Ek sal dit altyd as opwindend beskou, maar op die ouderdom van sewe jaar sterf my ma. Hier het ek eerstehands die wreedheid en pyn van kindertrauma beleef.

EJ: Ná matriek het jy sielkunde gaan swot. Wat was die rede agter jou loopbaankeuse?

QA: Ek wou altyd ’n spesialis in die sielkunde wees en het geweet met die nodige opleiding sal ek meer kinders en mense kan help.

So, my fokus selfs voor my studies was om mense te help. Daarom het ook baie kinders gehelp wat mishandel is, veral seksuele mishandeling soos verkragtings.

Ek het baie werk oor die jare gedoen met jeugbendelede, straatkinders, kinders in plakkerskampe en kinders wat aan gesins- en bendegeweld blootgestel word.

Iemand het eendag gesê wanneer jy my soek, dan moet jy weet dat Quinton iewers besig is in ’n omgewing waar daar baie geweld en armoede is, waar hy hoop gee.

Dít dryf my om die wêreld ’n beter en veiliger plek te maak waar kinders hulle volle potensiaal kan uitleef.

EJ: En vandag staan jy regoor die land as “The Shackbuilder” bekend. Wat het jou gemotiveer om moue op te rol en die lewe te verander van mense wat in informele nedersettings bly?

QA: Mense het my die titel van shack-bouer gegee toe ek begin shacks bou het. Van sielkundige tot shack-bouer.

Ek werk al amper 20 jaar in verskillende informele nedersettings.

Ek het oor die jare die wreedheid en ongenaakbaarheid van armoede gesien en veral die impak wat dit op kinders het wat in bouvallige plakkershutte woon.

Die menslike lyding en die menswaardigheid van mense wat gestroop word, beweeg my om iets daadwerkliks aan die saak te doen.

Ek het besef ek kan ’n klein verskil maak. Met die storm van 2017 het ek besef dat iets gedoen moet word toe ek sien hoe die shacks vernietig is in die storm. Iets moes gebeur.

EJ: Hoe laat dit jou voel om te weet dat jy ’n betekenisvolle verskil in mense se lewe maak?

QA: Ek is een van baie mense in die land wat ’n verskil maak.

Dis veral wanneer ons die sleutels van die nuwe shack aan die gesin of persone oorhandig wat daar net ’n onbeskryflike gevoel van dankbaarheid is.

Dankbaar dat God ons die geleentheid gee om ’n verskil te kan maak en dat daar wel enkele dier­bare, barmhartige Samaritane daar buite is wat ons hierin ondersteun.

EJ: Is ons as ’n samelewing in staat om van shacks ontslae te raak? Wat sal dit verg?

QA: Ons het nou al met baie beperkte fondse 23 tot 25 nuwe shacks gebou. Dit is moontlik om shacks te kan verander.

Daar moet die droom, wil en aksie wees om ’n beter lewe vir almal te skep. Pratery en beloftes maak my moeg. Aksie is nodig.

EJ: Wat is next vir The Shackbuilder? In watter rigting wil jy graag jou inisiatief sien groei?

QA: Om meer die storie aan die breër Suid-Afrika te vertel van wat ons bereik het en hoe ons met ’n klein groepie shack-bouers vanuit die informele nedersetting ’n verskil gemaak het.

So, ’n boek is in die pyplyn om ander mense te inspireer hoe dit op klein skaal gedoen kan word.

Ek besef dit is harde werk, maar verandering kan plaasvind.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters