15 dae gelede
Seridia-Lee wys hoe
Die sprankelende Seridia-Lee is sommer baie lief vir sing.  ~ Foto Verskaf

DIE lewe het haar hard geslaan, maar die Bolandse sangeres Seridia-Lee het nie gaan lê nie. Sy het opgestaan en vandag is sy een van die min suksesvolle bruin Afrikaanse sangeresse in die land.

Seridia-Lee kom uit ’n erg abusive huwelik. Ná haar egskeiding ’n paar jaar gelede het sy drank begin misbruik.

Maar haar ma, Evelina Pretorius, se woorde het in haar onderbewussyn vasgesteek: “Seridia-Lee, jy gaan eendag ’n groot ster word.”

Aangemoedig

Haar huidige eggenoot, Joseph Christians, het haar aangemoedig om haar droom as sangeres na te streef.

Seridia-Lee is in 1977 in die Paarl as Seridia Lorraine Denise Preto­rius gebore.

Op die ouderdom van drie het haar ma haar by haar ouma in Calitzdorp gaan laat bly. Dáár het Seridia-Lee se liefde vir Afrikaanse musiek posgevat.

Sy vertel hoe sy saam met haar ooms om die ghellie-blik gesit en Afrikaanse liedjies sing het terwyl haar ooms kitaar gespeel het.

“Op 11-jarige ouderdom het ek die NG Kerk-koor op Calitzdorp gejoin,” vertel sy verder.

“Ek is toe ook gevra om op posh wynproe-events op die plase te gaan sing.

“Ná standerd vier het ek uit rebelsheid besluit ek wil nie meer skoolgaan nie. Ek het toe ’n jaar by die huis gelê.

“My ouma het toe besluit om my terug te stuur Paarl toe, waar ek my laerskoolloopbaan by Ebenezer Primêr voortgesit het. Op hoërskool is ek na New Orleans Hoërskool.”

Ná skool is sy na die bekende Paarlse sanger Sydwell Beziek se musiekskool.

Daar het sy drie jaar as vocalist gestudeer. Sy het ook public appearance en finansiële bestuur geswot.

Seridia-Lee het toe as ’n erkende Afrikaanse kunstenaar ontpop.

Sy het al op verskeie karnavalle en konserte in die Wes-Kaap opgetree.

By Drakenstein se jaarlikse liggiefees het sy besef daar is ’n groot mark vir Afrikaanse musiek.

Sy het al verhoë gedeel met Paxton Fielies, Felicity Kiran, Nadia Herbst en Rappin’ Donkey.

Binnekort tree sy saam met Theo Watt en die Gemini Band op. Dít onder leiding van Lingo Black.

Sy was ook al drie keer ’n finalis in die jaarlikse Global Spotlight Talent Search.

Verder kan sy spog met ’n onlangse suksesvolle solo-konsert, Afrikaans is Tops, in Wellington.

Tans is Seridia-Lee betrokke by baie gemeenskapsprojekte in die Drakenstein-area, onder andere in Simondium, die Paarl, Wellington, Gouda en Saron.

Album

Sy beplan binnekort ’n toer na Tulbagh, Simondium, Calitzdorp en Oudtshoorn.

Sy het sopas haar single “Kan Jy Dans?” voltooi en reik dit binnekort uit. Dan werk sy tans aan haar volle Afrikaanse album, wat sy beplan om later vanjaar uit te reik.

“Deur sang het ek my omstandighede oorkom. Dit het baie selfvertroue, harde werk en uithouvermoë gekos. Maar vandag is ek dankbaar teenoor die Here daarvoor,” vertel sy.

“My grootste rolmodelle in die Afrikaanse musiekbedryf is Juanita du Plessis, Steve Hofmeyr en Lianie May.”

Kontak haar gerus deur haar man en bestuurder, Christians.

Christians is by 083 574 9811 of josephchristians1958@gmail.com beskikbaar.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters