Verlede maand
‘Selfmoord was moord’
soek antwoorde: Ná drie jaar glo Joseph Lucas steeds vas sy dogter het nie selfmoord gepleeg nie.Foto: eldridge jason  ~ 
Ondersoek: Dié gedeelte van die patologiese verslag dui die talle beserings aan wat Enslin aan haar liggaam gehad het.
soek antwoorde: Ná drie jaar glo Joseph Lucas steeds vas sy dogter het nie selfmoord gepleeg nie.Foto: eldridge jason
pragtig: Enslin Lucas was volgens haar familie ’n bondel vreugde, propvol toekomsplanne.
bebloed: Só het Enslin ná haar “selfmoord” gelyk.FOTO’S verskaf
drankie: Dié bottel is in Enslin se drom gevind, maar geen alkohol is in haar sisteem gevind nie.

DIE hartseer lê vlak in sy oë.

Drie jaar ná sy lieflingdogter se dood kan hy steeds nie verstaan wat gebeur het nie.

Hoe kon sy kwansuis selfmoord pleeg, maar haar liggaam is deurtrek van houe wat slegs deur iemand anders toegedien kon word?

Die ontdekking van Enslin Lucas se lyk in die verpleegsterskwartiere van die Montagu-hospitaal in November 2015 het destyds skokgolwe deur die gemeenskap gestuur.

Daar is gegis dat die mooie Enslin selfmoord gepleeg het.

Maar haar pa, Joseph, sê hy glo nie sy kind sou haar eie lewe neem nie.

“Toe ek die aand by die lykshuis kom en my kind se liggaam sien, het ek geweet sy het nie selfmoord gepleeg nie.

“Toe ek die vertrek binnestap, het my kind se een arm eenkant toe geval en het ’n traan oor haar wang geloop.

“Haar voorkop was ingeslaan, haar liggaam was vol blou merke en daar was agt spuitmerke op haar liggaam vir onder meer diabetes en epilepsie. Lynnie was nie ’n diabeet nie en het nie aan epilepsie gely nie.”

Die gebroke pa sê die patoloog het sy vermoedens bevestig.

“Sy het ons ingeroep en gesê ons moet so hoog as moontlik met die saak opgaan, want g’n mens wat selfmoord gepleeg het, kan so lyk nie.

“Die ag pille wat sy kwansuis sou drink, was steeds in haar lugpyp. Twee van hierdie pille was Panado’s.

“Daar was ’n leë drankbottel in haar vullisdrom wat sy sou gebruik het om die pille mee af te sluk, maar die patologiese verslag het geen alkohol in haar sisteem gevind nie.

“Ek vermoed ’n eks met wie sy opgebreek het, het haar vermoor.

“My kind sou nie selfmoord pleeg nie. ’n Paar weke voor haar dood het sy gesê sy is klaar met mans, maar wil nog ’n kind hê.

“Lynnie wou haarself artificially laat bevrug en wou weet of ons haar besluit sou ondersteun. Hoekom sal iemand wat planne vir die toekoms maak, haar eie lewe neem?” wil die hartseer pa weet.

Haar ma, ook Enslin, sê sy kan nie verstaan hoekom geen verdagtes ná byna drie jaar aangekeer is nie.

“Ons sou daardie betrokke middag voor haar dood vir haar kos neem, maar sy het gesê ’n ander antie gaan vir haar kos stuur.

“Dié blikke kos het op die vloer in haar blyplek gelê. Daar was geen gedwonge toegang tot haar plek nie, wat beteken iemand het toegang tot die plek gehad.

“Daai blikkie is nooit gevat vir vingerafdrukke nie.

“Ons glo die waarheid gaan eendag uitkom.”

Die egpaar sê hulle wil graag die kwessie privaat vervolg, maar beskik nie oor die nodige finansies nie.

“Ons sal dit waardeer as iemand wat meer van die voorval weet, na vore kom.

“Of dalk is daar ’n lawyer wat ons saak pro bono sal kan doen,” verduidelik Joseph.

Sers. Noloyiso Rwexana, ’n polisiewoordvoerder, sê ’n geregtelike ondersoek word steeds ondersoek.

Volgens haar is die docket by die inquest-hof.

Rwexana het nie vrae beantwoord oor die Lucas-egpaar se bewerings dat die cops die saak nie reg ondersoek het nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters